Varkvelletjies, dis wat die Joodse leerders by my eerste skool dit genoem het. Pannekoek en pancake het vir hulle ‘n heel ander betekenis gehad.
Praat ons gistraand daar by my kleurvolle vriendin van die lekkerkry eetgoed sommer ‘n lus los.
Die onthou van hoe ma die pannekoeke eers op ‘n bord gesit het, met kaneelsuiker bestrooi het en dan die volgende bo-op. En as die beslag op gebak is het sy weer die toring van bo af opgerol in die oondpan, nog kaneelsuiker bo-oor en dan in die oond dat daai suiker so deur die pannekoeke inkwyl.
Kyk hoe water my bek nou weer.
My se eie ma, aan my pa se kant, kon vir dood nie pannekoek bak nie. Ek onthou hoe ek voor die koolstoof op ‘n kassie gestaan het om pannekoek te bak. Ook so op die bord met kaneelsuiker oor soos prins Andrew se ma gemaak het maar nie in die oond nie. Nee die het te lank gevat. Daai toring is sommer so van bo af verminder na ‘n platdak. (soms sommer nog so terwyl ek bak)
Nou kyk, pannekoek bak gaan mos deur drie stadiums.
Die eerste stadium is die opwindende een. Die aanmaak van die beslag.
Eiers, meel, melk, ‘n paar geheime bestandele en dan natuurlik so ‘n skeutjie Whiskey. Nie te veel nie, net so skeutjie. Daar moet darem nog oorbly vir die volgende stadium. Dan klits en so bietjie laat staan om lekker ryp te word.
Die tweede stadium is die vervelige een waar als gebeur.
Ek gebruik Three Ship Whiskey (5jaar) De Rijger, De Tijger en die Titanic.
Nou word daai bottel langs die stoof staangemaak. Binne trefafstand van ‘n arm en terwyl die pan warm word begin ek solank met De Rijger se kaptein gesels.
Dis belangrik dat die pan goed warm is anders is jou eerste pannekoek ‘n flopoppie. So die gesprek met die skeepskaptein raak bietjie dieper.
Die eerste pannekoek word gegooi en gerol om die hele bodem van die pan te bedek. Dan los jy hom so rukkie vir ‘n slukkie en sodra hy sy houvas op die pan verloor skommel jy daai pan so bietjie in die rondte en dan… So vorentoe agtertoe beweging laat daai pannekoek ‘n swierige kop oor gat toertjie uitvoer en sy rou kant kry warm. Nog ‘n slukkie verder en die pannekoek is in die bord, wat op ‘n pot kookwater staan en wag met die eerste laag kaneelsuiker.
So gaan die proses maar aan. Teen die tyd wat De Rijger vasgemeer is en die bootspartytjie op De Tijger begin is jou bakvernuf al goed ge-olie en die flik flak van die halfrou pannekoek nie meer genoeg nie. Nee. Op hierdie punt van orde word daai pan sommer van die stoof afgehaal en daai pannekoek moet homself nou bewys deur ‘n dubbel flik flak te maak tot terug in die pan. Dis nou op die punt wat vlooivel, die hond, naderstaan want hy weet al hier gaan ‘n paar gelukkies sy kant toe kom.
De Rijger se bemanning is aan wal en nou stoei ek met die Titanic, wat teen ‘n verdoemende spoed voortvaar, se kaptein.
Die rol van die pan na die begiet geslag is word nou ‘n ou tamatiese beweging as ek die pan optel. Die pannekoek vanself los die van kom pan.
Ek vergeet om die pan van die stoof af te haal, probeer ‘n trippel flapflap met ‘n halfdraai na regs in die pike poesies sie en daai koekepan vlieg in daai skoorsteen op dat ek moet uithardloop buite toe en ek vang hom, net voor vlooivelletjie se nat neus met my linkerhand en sit hom terug oppie pan.
Met die terugdraai binne toe sien ek nie vir vroulief hande in die sye voor die deur staan nie en ek loop pan eerste in die ysberg vas. Daar sink die Taaitanic tot op die teëlvloer van die kombuis. Met geen enkele oorlewendige ekke nie.
Ek moes maar die laaste en lekkerste deel van pannekoekbak , die eetproses, vir die ander los want toe sluk ek weer aan my middag ete in whiskey verouderd.
Lank lewe die Taaitanic.