Skuus matertjie, my elkedag is so vol ek kom nie by alles uit nie. Nou is ek hier!
Adele, ek wonder of ons nie nou almal op daardie stadium in ons lewe is nie.
My verjaarsdag was nou my hardwerkdag en kersfees was bontstaandag. "Never mind" die hele maand voor kersfees was bontstaandag. (Let op na al die "wasse". ) Daar moes vrugtekoek gebak word (drie maande voor kersfees, sodat dit kon ryp word) en al die ander kleinkoekies en vrugteterte. (Praat nie van al die blikke kleinkoekies wat gebak is vir geskenkies nie.)
Dan kom die slaaie aan die beurt. Al daardie wat 'n mens drie dae voor die tyd moes maak. (Koperpenniewortel-, driebone-, aartappel-, wortel- en beet- vormslaai. (In jellie) Maak sommer vla vir die roomys vir nagereg ook!)
Dan kom die vleise. Tong, sult (braun) en ham.
Dan kan jy net kersfeesoggend die hoenders en skaapboud met gebakte aartappels in die oond druk. 'n Potjie boontjies met 'n skaaptjoppie in en lekker soet pampoen en jy is reg vir n feesmaal.
Dit is soos 'n vriend van my gesê het: dit is nie wat jy eet tussen nuwejaar en kersfees nie, dit is wat jy eet tussen kersfees en nuwejaar wat vet maak.
Hoe dit ookal sy, dit was onthou dae. Daardie dae toe my ouers nog geleef het, al my broers en skoonsusters en hulle kleingoed, al my kinders en hulle gades en hulle kinders saam aan dieselfde tafel gesit het. Nou is my kinders in die buiteland en ons is dikwels alleen. Dan verlang ek na daardie dae toe ek moes bontstaan om almal om my tafel te hê!
Vandag onthou ek net daardie besige dae en ek verlang. Nee, nie na die geswoeg en gesweet nie, maar na daardie samesyn om een tafel.
Ek is mal oor jou vredepleisters! Soms ervaar ek 'n geweldige verlange na my gisters, maar soos jy sê, 'n vredepleistertjie moet maar dien.
En . . . sonder vergifnis is daar geen vrede nie.