Woordbeitels & Slypstene uit die Digter's Gereedskapskis(1) Alliterasie en assonansie is vir my persoonlik die
rymende klankbeitel waarmee ons woordskatte, ritmies tussen lyne en spasies 'poëties formeer'. Deur die gebruik van herhaalde klanke is ons doel dan ook om daarmee aan die ontwikkeling van die strofes te timmer. Woorde en gedagtes saam te heg/bind, sodat ons as eindproduk - 'n gedig het.
Met die alliterasiebeitel kap ons herhaaldelik dieselfde konsonante uit die abc.
Wanneer ons die assonansiekant van die beitel gebruik, kap ons dieselfde vokale of diftonge op kort afstand van mekaar, in ons skepping uit, om byvoorbeeld emosie oor te dra.
Lang klanke om 'n stadiger ritme aan te dui. 'n Pragtige voorbeeld is die 'ee' en 'aa' assonansie in 'Winter' (NP van Wyk Louw). So gebruik ons dan ook die kort klanke om 'n gevoel oor te dra van opgewondenheid of angs. Dit is ook die towermiddel waarmee ons klanknabootsing kan toepas.
Skuinsgestrekte silhoeëtstrepe in sonneblomgeel;
só kom versier die somerson se skaterlag
soggens, guitig deur die kantgordyn
suutjies my goudgeel kamermuur.
© Meraai vannie baai
******************************************
(2) Oxus-Moros: Hier maak ons gebruik van
OKSIMORON (twee teenoorgestelde begrippe met mekaar verbind) Die woord is van Griekse oorsprong - en is saamgestel uit twee woorde:
oxus, wat skerp beteken, en
moros wat verspot beteken.
VOORBEELD: SIENDE BLINDDie eerbare skurk
met sy ernstige spel
en wrede vriendelikheid
laat ons in stille uitbarstings
geluidloos uitroep en
vanuit die koue vuur
loop lewende lyke
met langsame haas
die doodloopstraat van 'n sirkel
met oneindige beperkings
want die oorspronklike kopie
van lewe en dood - is half voltooid
en vermis bevind.
© Meraai vannie baai
**********************************************
(3)
Ekphrasis 'n Woord & Beeld Duet.
Wanneer ons
'ou uitdrukkings' klee met 'n
'nuwerwetse baadjie', kan dit kreatief/verfrissend opgedis word. Ek het die nagmerrie gedagtes wat my blootsry,
'hokgeslaan'.
*******************************************
(4)Gesegdes in Versvorm.
Hier en daar het ek minder bekende uitdrukkings (vir my), gebruik in die gedig wat uit drie gekombineerde strukture bestaan: Oorbruggende-/Herhaalde Titel en Gesegdes in Versvorm.
Die man van sesse klaarmet sy mantel na die wind gedraai,
had hy heelwat in sy mars gehad.
Sommiges sê die meetsnoere het vir hom
op lieflike plekke geval, en hy was met
'n silwer lepel in die mond gebore.
So het hulle voet by stuk gehou.
Maar hy - die man van sesse klaar,
moes self die mas opkom en toe hy
met die noorderson verdwyn, was
daar van heinde en vêr bespiegel:
dit was laaste sien van die blikkantien.
Almal was dit eens en het tromp-op stories
loop verkoop: Die tweegatjakkals het hul
donkiejare laas gesien. Hy het soos mis
voor die son verdwyn...
Hy het sweerlik die emmer geskop;
hulle vryf die kneukels blink, en
kiewe trek styf van die suurdruiwe
uit Nabot se wingerd ...
Nog voor hy 'n enkel ysterklou,
aan die grond kon slaan -
is die vlag halfmas laat hang
en daarmee saam, was die
man van sesse klaar -
se naam in eer herstel.
© Meraai vannie baai
*bron van navorsing: Oorsprong van gesegdes - Afrikaans in Europa
As lesers belangstel in uiteensettings van die minder bekende gesegdes kan hulle hierdie skakel volg:
http://forum.afrikaanseforum.co.za/index.php?topic=2343.0***************************************************
(5)
Die "Caesura-tegniek" / "Tipografiese wit", kan ingespan word vir daardie tikkie 'ritmiese zing' tussen die lyne. Hierdie tegniek kom tot sy volle reg met voorlesing. Wanneer jy dus so gedig skep, is dit skryf, luister; skryf luister. Maak seker die woorde wat jy wil laat hang, is op die regte plekke geplaas. Die spasies werk soos die rusteken in musiek. En soos met alles, het dit die mooiste inpak as jy dit spaarsamig toepas. Soos met gewone spreektaal, laat ons die leser hier rus tussen woorde met die gebruik van 'n dig-element, meestal sonder die gebruik van leestekens.
Ek het toeka se woorde gebruik om hierdie geselsverse saam te stel waar die tegniek van tipografiese 'witspasies' toegepas word in die laaste reëls van die 1ste, 3de en 6de verse.
Vanmelewe ... Sawens om die skoongeskropte kombuistafel,
sit die kjenners nes hoenders op stellasies.
Pagoed het stil verdwyn met die draadloos;
hy gaan 'n wyle skuinslê, magoed sal omsien
na huis en haard opgetooi met oulap se rooi.
Die gedurige aanmaan en gestaan agter klôgoed
nes 'n grêmmefone wat vashaak in die agtergrond:
"Span daai harregat klapperdoppe ín vir 'n slag!
Tiekies en pennies, sjielings en halfkrone, dié
groei nie aan bome nie. Julle moet geleerd kom!"
Ons doet so voort Moeder! Ses griffels krap oor leie.
Streepsuiker is jou voorland sou jy dink aan slaplê!
Vandeesjaar is Ouboet se laaste boeksakdra;
sy skaapogies en gesoek na perde en osse,
die is púre verniet aanskomende jaar kom hy boer.
Die gôwerment het brieke aangedraai met die aalmoese,
dis glo 'n bielie van 'n saak; hiér te kort en dáár te lank.
Ieder en elk - Gatjieponners, Hervormes en Doppers,
die is nou aan't swoeg en sweet vir elke mudsak koring
soos die Grootboek beveel om jou hand aan die ploeg te slaan.
Van gunste en gawes die is daar geen sprake meer van nie.
Vir elke sjieling of pond sal jy kromstaan of sekel swaai,
prosedeer gaan vir jou nie 'n tiekie ekstra in die sak bring nie.
Elke man vir homself. Ou Sekelstert sal sorre vir die res;
dít is die wet van Transvaal my geliefde ou swaer.
Voordag met die haan se kraai, trek jy suutjies
die warm flênnie oor jou blaaie en stook die koue vuur.
Skouer aan die wiel; baie myle lê tussen saai en oes.
Dank die Liewe Vader, voor jouse twak staan en nat worre
en jy Bokveld toe verhuis sesvoet ônner die grond.
© Meraai vannie baai
************************************************
(6)
Kruis en dwars skryftegniekNog 'n manier om kreatief te skep is met die 'kruis en dwars' metode. Die skrywer neem 'n klompie woorde, plaas dit in twee kolomme teenoor- of ondermekaar. Verbind nou die twee kolomme sonder om ag te slaan op die woorde. Hieruit kan nou nuwe woorde/begrippe of humoristiese verbindings verkry word. Ek het as voorbeeld veertien woorde uit ons Eksosentriese Komposita (die kruiemiddel waarmee daar kleur en geur aan die alledaagse spreektaal gegee word) gebruik.
A kwaggakaiing: koeksuster
B krabbelpoot: slordige handskrif
C bokverdriet: onplesierige dik mistige weer
D help-my-bykommetjie: hoe hakskoen
E stoutpootjie: vryer wat nie sy hande kan tuishou nie
F adamsvurk: met die vingers eet
G Kalaharibesem: sterk kalahariwind wat alles met sand bedek
1. Hemeltoorts: die son, ook genoem: Janbantam en Janlap
2. Kop-en pootjiesdraai: agterbuurt
3. genade water: flou koffie
4. Kekkelbessie: benaming vir hoendereier
5. blikperd: trapfiets
6. knordonkie: bromponie
7. goggabangmaak: skreeulelike persoon of ding
Uit hierdie twee groepe het ek die volgende woordverbindings gekry:
A7: Kwaggakaiing/goggabangmaak
B6: Krabbelpoot/knordonkie
C5: Bokverdriet/blikperd
D4: Help-my-bykommetjie/kekkelbessie
E3: Stoutpootjie/genade water
F2: Adamsvurk/kop-en pootjiesdraai
G1: Kalaharibesem/kwaggakaiing
Jy kan ook die twee groepe blindelings verbind. Eindelose woordpret wanneer hierdie verbindings in versvorm ingespan word!
Sagrys Stoutpootjie.Daarbo by kop-en pootjiesdraai
waar die kekkelbessies nesskrop
langs 'n papwielblikperd;
speel Janbantam stille toeskouer
as bokverdriet nie sy sluiers gooi.
Op die trappie langs die malvas,
sit ou Sagrys Stoutpootjie.
Met adamsvurk eet hy Kalahariprawns
en sluk dan af - met genade water
Om die hoek kom Kalaharibesem
sy vaaljas gooi, oor mens en dier
©Meraai vannie baai
WOORDLYS SPELDrie Donker Donau Dramas Duskant
die dooie denneboom,
draai
dwarrelwinde dreigend.
Delikaat
dans die Deense Dolla daar.
Dekor
deurgaans dieselfde:
Die Drinkpan -
dekades dor/droog.
Donderdae;
dikwels die diamantdief deurpad...
*********
Duister
die digter's dimensie;
dog
detail duidelik daar.
Dokumenteer
die destydse demokrasiedanse:
"Donasies
deur dorpsdokters/dominees!"
Duidelik
dus, die deursnee doel daarmee :
departementele dade
deur dorstige duiwelsgade".***************
Dis dié Desemberfees;
daar drup-drup druifsap dragtig.
Dwing dapper dwase durf, die
dom-dommer-domste d(r)onkies
dwarsdeur diensbare 'doringdrade'.
Danksy deftige damesdruk,
droog die drankbare dramas
darem deels. Deporteer die
departement daarna dertig
droewige dasdraers!
© Meraai vannie baai
************************
Ekstremiese Eenvoud Erediens erns,
elke Eva's eksperiment.
Eufratiese
evolusie-elegie.Eenvoudige ervarings;
elektron-ekstase!
Eintlik elkeen
elementêr.
Ek erken eselrig
(enigste elegante emosie)
êrens
emigreer energie.
Eie Eksodes
en elders, erf enkeles, eensaamheid...
© Meraai vannie baai
*Alledaagse takies het oornag vir hierdie Eva 'n reuse uitdaging geword op die
Eksodus kringloop tussen goeie en minder goeie dae. Geleende asem uit onelegante pypies - opreg dankbaar - 'n eensame erfdeel.
Die volgende een was geskep met Naas se eie Tru Vers Struktuur
Freudian-glipsDuistere geweste in die siele argief;
"Kreukelkamer biografieë"
So onwetend impulsief,
verklap in verswygde onvermoë
met 'n glip van die tong
en onverwags, deurklief
die tuin van Eden's slang
'n duistere geweste in die siele argief
Freud verklaar my die ewige kneg
wat verklap met verswygde onvermoë
en verbeur daardeur die kopiereg
op my kreukelkamer biografieë
Sonder ag gee op my gedagtes
ontbloot die tong-glip-dief
verskuilde geraamtes;
so onwetend impulsief
Verklap in verswygde onvermoë
so onwetend impulsief;
"Kreukelkamer biografieë"
Duistere geweste in die siele argief
© Meraai vannie baai
Teenoorgestelde Skryfstyl - aanleiding van Dolly Parton se lied 'The grass is blue'.Nóg hier nóg daarTussen iewers en nêrens
swerf ek stagnant
nóg hier nóg daar
niet in vlees of gees
spook die lewende.
Daar waar die horisonne
getyelose seë, kus op die wange
kraai 'n nagtegaal drie maal
oor haasbek-herinneringe
in alwynsoete môres
in 'n swart en wit reënboogland
waar sterre snags slaap
waar die son nooit skyn.
Sielepleister van onsekerheid
wanneer bangwees kom troos
in die lewensgang sonder end
waar tyd stil gaan staan
as die aarde stol op sy as.
Dit is daar waar niks alles is
dit is daar waar alles niks is
en die waarheid knoei openlik
oor ek so droewig kan lag
oor 'n vergete toekoms en
oor koue vure se warm as en
oor die sterre wat snags slaap en
oor die son wat nooit meer skyn
oor 'n swart en wit reënboogland
oor sewe seë net 'n klipgooi ver
as ek deur die lug kon swem
oor en oor, was ek al daar
maar die hemel kan val
en dan is een plus een vier
oor die sterre snags slaap en
oor die son nooit skyn nie,
swerf ek liewers net hier
oor die son nooit weer gaan skyn nie
nóg hier nóg daar.
© Meraai vannie baai