Vir my, meestal, sien en verstaan diere (en ja, lees katte) die diepste in my siel. En ek, glo ek, in hulle s'n. Alhoewel, kan enige 'cat whisperer' hulself OOIT daarop roem om die siel van 'n kat volkome te kan verstaan? :) Die misterie, bv, van die deur - sal ek ingaan, of uitgaan! En waarom hulle in jou oë kan kyk en jou geliefde blompot afstamp!
Dit alles op 'n ligter noot. Ek het, sedert ek seker so 7 jaar oud was, groot vreugde (eers uit my hasie, Wollie) en daarna uit my katte geput. My eerste kat was Felix. En na hom 'n groot nageslag van katte wat my lewe sinvol en lekker gemaak het.
Ons dierekinders maak ons so 'vulnerable'. By gebrek aan die Afrikaanse woord wat dieselfde kan sê. Want, soos die Bybel ons tereg vertel, vir alles is daar 'n tyd. En so ook met ons katkinders.
Lizzy het in my lewe gekom in 2003. Sy en haar broer Sproet was net eendag daar. Saam. Afgelaai, glo ek. Omdat almal van die 'mad cat lady' geweet het. Ek het toe al moeilik begin loop. En het 'n eetkamerstoel ongeveer 200meter gesleep om hulle uit 'n boom te gaan haal. Waar hulle geskuil het teen honde. Maer. Vreeslik maer. Maerder as wat ek ooit geweet het 'n kat kon wees.
Pas na die eerste maaltyd verdwyn het, het hul elk 'n naam gehad, en die katpopulasie in ons huis na 6 opgeskuif. Sy is die enigste wat deur al my eie menslike dramas was. En altyd steeds maar daar was. 'n Bondeltjie katpels om my gesig in te druk, om soms trane mee te droog.
En vandag, na lank sukkel, kos aandra, spesiale versorging en wik en weeg, het Chris haar gevat om die uiterste liefdestaak namens sy ma te gaan verrig. Haar graffie staan gereed. As sy tuis kom, rus sy sag skuins oorkant my venster waar ek al my skryfwerk doen. En sal ek en sy saam uitkyk oor die see.
My plekkie is neffens haar bespreek. Vir eendag. Daar sal my assies rus. En sal ek weer my gesig diep in katpels kan laat wegraak.
Rus sag my dierbare klein Lizzy. Jy met jou snipneus, en ewe snip geaardheid. Jou plekkie gaan leeg wees hier met net die drie stout katseuns, sonder 'n tante wat haar vinnige handjie soms gebruik het om straf uit te deel as dit nodig was.