het ek hierdie nou Ganiet, met 'n hoofletter. ek het gesoek, gedink ek het dit al hier gesien,
maar kry toe nie, verskoon as iemand dit reeds geplaas het...
Nat en sapToe Noag strand teen Ararat,
Die Ark begin in puin raak,
Toe sê hy: "Aarde, maar dis nat!
Nou kan 'n mens weer tuin maak!
Het ek nie met die Ark geswoeg,
Was ons ook in die pekel.
Aan water het ek nou genoeg...
'n Lewenslange hekel.
Kom, Sem en Gammie, maak nou gou
Vir Pa mooi reguit slootjies;
En Jaaf, my kind, kom plant jy nou
Vir Pa die wingerdlootjies."
Die kromhout groei, en Noag skink
Sy sap 'n bietjie later:
Daarin is sedert meer verdrink
As in die Vloed se water!
Toe die wêreld nog jonk was“In dié dae was die reuse op die aarde...
die manne van naam.” Gen. 6:4.
Kort anderkant Jerusalem
daar het gewoon Metusalem,
die man wat hul – dit sal jy sien –
vermenigvuldig het by tien!
Hy was g’n vier jaar in die land
toe kry hy al sy eerste tand;
by tien jaar kruip hy oral rond,
‘n flinke knapie en gesond:
toe rol hy al, en val en woel
en staan hy op teen elke stoel.
Nog skaars was hy ‘n jaar of elf
toe stap klein Lemmie al vanself.
So groei hy op tot sestig jaar;
die eerste wisseltand was daar;
en volgens landswet ry “oom Kool”
op ou Behémot na die skool,
sy vaders trots, sy moeders vreugd’,
Met Step by Step en Trap der Jeugd
in Hoog-Galdeeus en Aramees,
want almal moes tweetalig wees.
‘t Was goed en wel, maar alte vaak
het dié twee “opgemix” geraak.
Hy leer; en voor hy honderd was,
staan hy al eerste in sy klas!
Op honderd-sestig moes meneer
sy melkbaard al begin te skeer;
Tien jaar daarna al katkiseer
en Hellembroek – die dubb’le – leer;
nog tien jaar toe begin hy al
‘n mooi klein nooientje lastig val.
Verniet dat Vader loop en brom:
“Kniehalter-span sal ek vir hom!
’n Bog van honderd-tagtig jaar
praat al van trou – so wrintie waar.
Maar styf sal hy sy rieme loop –
hy dink glo trou is kémel koop!”
“Kind,”sê sy ma, “daar’s baie tyd –
waarvoor die grote haastigheid?”
Maar wat, die snuiter was getroud
skaars honderd-ses-en-tagtig oud.
En soos dit in die huwelik gaan,
sy huisgesin groei stadigaan:
So elke dertig, veertig jaar
is weer ‘n nuwe outjie daar.
So word met dat die eeue rol,
ook mettertyd sy koker vol –
‘n pure man Metusalem,
die Raadslid vir Jerusalem!
Hy tem die woeste Dinosour
en skiet die wolhaar –Brontosour;
en van sy vel maak hy ‘n jassie
vir klein Mahérskalálgasbassie.
Maar klein Kedorlaomertjie
en lief Kirjatjaromertjie,,
Die tweelingboetie en sy sussie,
kry elk ‘n hippopotamussie.
Tiglatpileser, die parmant,
Wil niks hê as ‘n olifant;
maar Hammoerabie huil en sê
hy wil ‘n wit harnoster hê.
En klein Metusalem verlang
Pa moet vir hom ‘n walvis vang.
“Habbakukkiena, bly tog stil!”
“Ag, Ma, hul vat my krokodil!”
Maar Gog-Magog met breë bors
Eet soet sy leviatanwors.
Ja, glimlag moes die moeder wel
by dié verteed’rend kinderspel:
Hoedat – dis om jou hart te steel –
die kleinspan met hul diertjies speel!
So leef hy voort en doen sy plig
tot sewehonderd-sewentig,
Toe sê hy: “Kinders, nou gaan ek
my aan die boerdery onttrek.
Voor nog ‘n honderd jaar verloop,
sal ek vir my ‘n bril moet koop.
Die paar ou eeutjes wat ek nog
hier op die aarde lewe mog,
wil ek gaan rus van al my werk.
My dorpshuis staan vlak by die kerk;
die dokter en die predikant
is albei sommer byderhand.
Hou as ek weg van julle woon,
my kinders, julle paadjies skoon:
Pas op vir borgstaan en krediet,
vir Israel- en Ismaeliet.
Behou die grond, kaart en transport;
betaal kontant: die lewe is kort,
’n droom – en voor ‘n mens gewaar,
dan is die ouderdom reeds daar.
My lewe is – so skyn dit my –
soos ‘n gedagte snel verby!
My dogters, luister tog vir Pa:
Volg nie die nuwe modes na;
’t Word alles korter – liewe land! –
die rok, die hare en verstand.
Dit dans, dit rook – dis om te ween.
In hemelsnaam! Waar moet dit heen!
Ligsinnigheid wat my verstom –
vanslewe was dit andersom.”
En so verslyt Metusalem,
sy ou-dag op Jerusalem,
en drink en rook op sy gemak
sy koffie en sy pyp tabak.
So sit en peins hy menigmaal:
“Die duisendtal sal ek nooit haal.
Ek het ook soveel knoue weg
in wilde-mens- en diergeveg,
die sware koue in die nat
vierhonderd jaar gelee gevat.
’k Onthou nog goed die groot kapok –
die sneeu tot aan die huis se nok.”
Op nege-sewentig min een,
sy tydjie om, was hy daarheen;
en niemand wis of dag daaraan
‘n wêreldrekord was geslaan.
Die feit is daar: Van toe tot nou
Hy het die langste aangehou!
en die heerlike:
Sê-nouSê-nou is ‘n lekker sê:
Alles wat ‘n mens wil hê,
alles wat jou hart begeer,
kry jy daarmee en nog meer.
Nooit kan jou die tyd verveel
as jy altyd sê-nou speel.
sê-nou, sê ek aan my maat
toe ons saam loop langs die straat,
sê, byvoorbeeld, elke iets
van ‘n motor tot ‘n fiets,
perdekar of ossewa,
ryperd wat sy ruiter dra –
alles waarop mense ry,
kom onsigbaar hier verby,
net die mense – wat ‘n klug! –
trek dan sit-sit deur die lug,
ooms te perd met lange baard
wip-wip luglangs doodbedaard;
snaaks sou wees die trem-wa daar,
twee verdiepings op mekaar;
maar die baie-sukkel trap
lyk my nog die grootste grap
as jy net die fietser sien
maar geen spoor van sy masjien!
Sê-nou, antwoord toe my maat,
jy hou op met onsin praat;
jy moet na die dokter gaan
met jou kop: daar skeel iets aan:
Sulke mal gedagtes kry
kom van mallemole ry!