Agter blokkiesdraad van kan en kon('n Ekphrasis-refrein-gedig)
Jou twiet-twietsige hulproep van agter blokkiesdraad
waar die tekens van elke mislukte ontsnappingsroete
oopbekkie aanhou gaap; laat my telkens - magteloos
voor jou staan en ek wens, ek wens, dat vingerpunte
draad
kon knip sodat jy jou vlerke weer vry
kan sprei
Refrein:
Ek onthou die sagtheid van jou tong
ek onthou die smeking van jou tjirp
Ek wens, ek wens ...
dat vingerpunte draad
kan knip
en ons, ons vlerke vry
kon sprei
*Soos die verskillende groottes van die blokkiesdraad in die foto, wissel die lengte van die verse ook in die gedig
en is die woorde in die reëls so gekies dat dit vanself in verskeie blokvorms vertoon vir visuele ooreenstemming met die foto.
Dit is nie altyd maklik om te onderskei tussen 'n refreingedig of ons eie eggo struktuur. Met die plasing van 'refrein' word hierdie misverstand uitgeskakel en weet die leser dadelik onder watter struktuur die gedig val indien dit nie erens genoem word nie.
Toe ons vir die paar dae weggeloop het, was daar 'n groot voëlhok by die een karavaanpark en omdat ons gewoond geraak het aan die gevlerkte vrinde se vryheid hier, was dit elke dag vir my 'n hartseer ervaring om daar te gaan staan; te sien hoe die ou spook om deur die draad te byt. Hy het sy tong deur gesteek en my vinger gelek. As ek weggestap het, het hy vreeslik hartseer geroep - dan draai ek weer om en hou my vinger vir hom. So het ons ook maar in die lewe ons eie blokkiesdraad waar agter ons gevange gehou word; waar ons dinge wat ons eens kon doen, nie meer kan nie het ek vir hom probeer vertel, maar ek glo nie hy het verstaan nie.