’n gewone dag
verloom in skemeraand,
tot rosig horison
vergrys tot nagfluweel
maar agter struiklanings
waar sekelmaan laataand
mure vol duiwelsgraffiti gooi,
skuil sadisties ’n wolf
sy kloue in slangspoeg gedoop
sy tande bloeddruppend
met satansgif gevul,
’n mantel deur demone geweef
om sy skouers gebind -
en nog ’n slagoffer word vermink
die wêreld het hy deurkruis
en hierdie land sy prooi gemaak,
onversadig spoed hy die berge oor
sy wolwelag rol oor die vlaktes voort
onskuldige kinderoë se angs
bind hy om sy hart
verslaentheid van jonk en oud
is kruie vir sy heksepot
geen ingewandslagting
kan meer sy grynshonger stil
geboë hoof -
waar knielend mens
sukkel om geloof en hoop
as halssnoer bymekaar te hou –
smeek sy Skepper
om die aardse silkus te verkort
om sy hande te bind
en sy woorde te stil
want geen haat
en weerwraak uit gebroke harte
gaan Ewige vergifnis
aan elk sondige mens,
aan elke kind van God
se diepste wese bind nie.