Blydskap spoel oor haar toe sy die tuinhekkie wat die voorste deel van die erf skei van die agterplaas, hoor kraak. Die tuinjong het opgedaag! Vinnig maak sy die venster oop en roep na hom.
“Simon! Simon!”
“Môre Madam. Gaan vanmôre met duuse goete? Lekker ys vanmôre.” groet Simon goedig.
“Môre Simon. Kyk tog vir my by die buite deure, ek dink ons is beroof deur die nag. Ek roep en roep maar Rhyna antwoord nie. Enne my deur is van buite gesluit ek kan nie uit kom nie.”
“Reg so. Maak so,” hy verdwyn om die hoek van die huis.
Nie lank nie of haar kamerdeur glip oop. Simon staan met ‘n breë glimlag in die deur.
“Dankie Simon. Jy is voorwaar ‘n engel.” Ella glip by hom verby gang af na die kinders se kamers.
Simon volg haar.
Dit is dolleeg. Geen kinders, geen meubels.Die hangkaste se deure staan oop en net hier en daar is nog klere in die kaste. Berion se speelgoed is ook weg. Ella haas haar na die sit- en eetkamer. Hier tref sy dieselfde toneel as in die kamers aan. Selfs die gordyne is van die relings afgehaal.
In die kombuis is net haar beker met ‘n foto van Berion op en in die kruidenierskas ‘n boks met drie Ouma-beskuitjies in.
“Simon, gaan kyk by die garage of die Nissan en die sleepwa nog daar is.”
“Eish,” en klik spytig met sy tong.
Ella drafstap weer na haar kamer; kyk in haar hangkas daar waar sy haar handsak en belangrike dokumente bêre. Sy moet alles so vir Dave wegsteek en toesluit. So gou soos nou verdwyn haar bietjie rente wat haar belegging verdien in sy keelgat af. Die rak is leeg! Sy sak snikkend voor die kas op die vloer neer.
“Madam,” Simon kan sy werkgewer nie in die oë kyk nie. “die gradge hy’s empty.”
Ella het lank so in ‘n bondeltjie op die vloer gelê. Simon het op sy hurke by die deur gesit.
“Moet ons nie die poelieste foun?” het hy gevra toe haar snikke stil word.
“Met wat bel ek? Hulle het my foon ook gevat. En hier is nie meer ‘n landlyn nie.” haar stem onnodig skerp.
Stilswyend het hy sy hand in sy broek se sak gedruk en sy foon uitgehaal. Dit vir haar aangebied.
“Die poelieste se emergency is op speed dial. Madam kan maar net #1 druk.”
Stoïes voer Ella sy opdrag uit.
“Kan ek nog ‘n oproep maak?” Sy het die misdaad klaar rapporteer. Sal vir jou airtime op sit.”
Waarmee sy vir hom lugtyd gaan koop, weet sy nie. Want haar beursie met haar laaste pensioengeldjies en haar bank kaarte was in haar handsak.
Simon knik sy kop bevestigend.
Met bewende hande tik sy Rhyna se nommer in op die selfoon. Die lui ‘n paar keer voor sy haar geliefde dogter se stem hoor.
“Hallo.”
Ella aarsel ‘n oomblik voor sy antwoord. Aan die agtergrond geluide kan sy hoor dat die voertuig in beweging is.
Sy skraap haar moed bymekaar om met haar dogter te praat. Bid stilweg dat haar vermoede verkeerd moet wees.
“Rhyna, dis mamma. Ek bel …” summier word die verbinding verbreek.
Weer bel Ella maar die foon skakel dadelik oor na die SMS-diens.
Ella het Dave en Rhyna se selfoon nommers vir die polisie gegee. Verslae het sy ‘n verklaring oor die nag se gebeure afgelê. Fotos van Dave, Rhyna en Berion aan hulle gegee. Die registrasie nommers van die bakkie en die sleepwa aan die ondersoek beampte verskaf en kenmerkende detail omtrent die bakkie en die sleepwa uitgelig.
Simon het nog dieselfde middag die slegte nuus aan haar suster, Sarie gaan oordra by wie hy ook in die tuin werk.
Sarie het haar gehelp om haar debietkaart en ID-dokument te vervang. Die lewe het vir Ella kleurloos geword. Sarie het vir haar gedink en gedoen.
Twee maande het verby gegaan sonder dat die polisie hond haaraf kon maak met hul ondersoek. Die kinders en die voertuig het eenvoudig net spoorloos verdwyn.
Sou die polisie hulle werk gedoen het kon Ella ook nie skeel nie. Sy is spyt dat sy die polisie in kennis gestel het. Dit sou beter gewees het as sy eers vir Rhyna gebel het. Hoe stuur ‘n ma haar enigste kind tronk toe? Hoe gaan sy dit eendag aan Berion verduidelik? Sulke tye bid sy in haar binneste dat die polisie hulle nie sal opspoor nie.
Ander kere weer vlam haar woede teenoor Dave op. Verwens sy die dag wat hy in hulle lewens gekom het. Wens sy die polisie vang hom en sluit hom toe. Maar dan besef sy hulle gaan Rhyna ook kry, haar ook toe sluit. Kan die Here nie maar gee dat haar dogter se oë sal oopgaan en sy met haar kind sal huis toe kom nie?
Een oggend is daar ‘n dringende klop aan die deur. Ella se hoop verander in vertwyfeling toe sy die deur oop maak en die vreemde man op haar drumpel sien staan.
“Môre. Kan ek help?” groet sy gelykmatig.
“Môre. Ek is Daan van Tonder, balju van Naledi dorp en -distrik. Ek is opsoek na die eienaar van die huis, ene meneer Willem Dave du Plooy. Is hy dalk tuis?” groet die man haar sommer in een asem.
“Nee … e … nee hy is nie hier nie. Hy woon nie meer by my nie. Dit is ook nie sy huis nie. Dit behoort aan my.” stotter sy onkant gevang.
“Ek glo nie die bank sou so ‘n fout gemaak het nie. Hoe lank is u die eienaar van die huis?”
“Vandat my man twee jaar terug se winter afgesterf het. Hy het die huis aan my nagelaat.”
“Het u bewyse van die Aktekantoor inskrywing?”
“Genade ek is nie seker nie. My dogter het die boedel hanteer. So ‘n paar maande terug is ons beroof. Selfs die kas waarin ek al my dokumente gebêre het, is gestroop.”
Sy kry te skaam om te erken dat haar kind haar besteel het.
“Ek kan ongelukkig nie anders nie, ek sal moet die dagvaardiging aan u oorhandig. Persoonlik dink ek dat u so gou as moontlik met u bankier in verbinding tree om hierdie kwessie uit te stryk.”
Die deernis in die balju se stem dreig om die damwal in Ella weg te kalwe. Sy groet vinnig en druk die deur toe.
Weereens moes Sarie haar help. Haar bank toe piekel, prokureur toe. Daar moes sy tot haar skok uitvind dat sy die huis na Edwin se dood oorgedra het aan Dave. Hoe dit gebeur het, kan sy nie onthou nie. Sy het net die dokumente geteken wat Rhyna voor haar neergesit het. Hoekom sou sy haar dogter wantrou?
Edwin was maar die een wat altyd na hulle finansies omgesien het. Die een wat gesorg het dat sy ‘n dag van môre sal hê as hy nie meer daar is nie.
Nog meer skokkend was die bedrag van die verband wat Dave op die huis uitgeneem het. Hoe op aarde sou haar dogter so ‘n yslike verband kon afbetaal met haar salaris as kassier by die drankwinkel? Die uitlander betaal kwalik die minium loon.
Sarie het haar gehelp om haar bietjie klere te pak. Simon het sy broer gebring om haar bed en spieëlkas agter op Sarie se Corsa bakkie te laai. Sy bly nou in die stoepkamer by haar suster en swaer.
Rhyna antwoord nie die SMS’e wat sy stuur nie, antwoord ook nie as sy bel nie. Dalk het sy al ‘n haar nommer verander. Net een keer sou sy Rhyna en Berion se stemme wou hoor. Graag net een keer die versekering uit Rhyna se mond wou hoor sy onskuldig is, dat alles ‘n misverstand is, dat dit alles Dave se toedoen was, maar die hoop beskaam. Einde
©Orange Blue
©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie