In my begin dae as deelnemer aan 'n forum, was daar altyd 'n waarskuwing, "hou by die onderwerp", menende dat wanneer ons oor koeitjies en kalfies gesels moet die hoenders daaruit gehou word.
Vir my beteken "hou by die onderwerp" nog iets anders. Dit beteken: Wanneer ons gedagtes uitruil, of opinies deel, dat ons mekaar sal respekteer en nie die man aanvat oor die onderwerp nie.
Wanneer ek kla dat jou werkers 'n geweldige lawaai opskop terwyl hulle werk (met mekaar staan en skreeu bokant die masjienerie se lawaai ook nog) dan het ek nie vir 'n oomblik gesê dat jy skuldig is daaraan nie. Die onderwerp, of dan die probleem, is die lawaai. Spreek die probleem aan en nie vir my nie. Dit is my reg om te kla.
Verlede week was ek en Hannes diep in die moeilikheid omdat ons met die ander bure saamgestem het dat die kontrakteur wat 'n swembad met "grinders" laat uitsny, veronderstel is om 'n tent oor te trek en die stof met lugsuiers op te vang. Ons huise en plante was wit van die stof, elke dag vir 'n week aanmekaar! Daardie stof is so fyn, dit trek deur toe vensters en deure en in 'n mens se longe in.
Nou is die swembad eienaar vir ons kwaad. Die onderwerp is die stof, die lawaai, die kontrakteur wat nie die regte toerusting gebruik nie. Spreek die probleem aan, almal in die omgewing kan nie skuldig wees behalwe die kontrakteur nie. Hou by die onderwerp en los die persoon uit.