In hierdie droogte se knelgrepe
verstil ek my in my wese
en skud ek my hare in die wind,
waai stofdeeltjies soos sterrereën
oor veld se dors en poeiersand heen;
verlepte plantgeraamtes buig neer
met arms en vingers smekend voor ons Heer.
Damme se bodems, onder leë waterstand,
krul in gebakte modderkraaksels op
en vee wat massas moet voed,
beur bulkend teen mekaar
en vertrap kallers wat swak protesteer.
Heilige ibisse vier fees
in die pense van dooie vis
wat langs die vroeëre waterkant vrot
terwyl vinke se kwetter stil raak
en hulle wilgertakneste in wind verwaai.
Dan kniel ek neer, waar lentegroen gras
lammers en ander moes voed,
maar met my knieë nou in die stof…
my gebed is stom, my woorde oorgegee
aan sy Heilige Gees wat dit vorm
en voor God se Troon klank moet gee.
©adéle theron