ek roete vir my ’n rigting
weg van die hier
en die nog té naby-onthou
van die laaste sekondes
in die onlangse
verlede in
op ’n genade-plaaspad
met wye grasvelde omsoom,
toekoms ek voort
na waar ek
’n miershoop gaan uitkalwe;
in skemer klam mis
’n knushoekie berei
waar ek vir ewig wil bly
maar, verdonker die pad
onder my voetstappe,
verrys nagspoke
al om my hande
tot ek neerval
en bewend-biddend
na ’n sonstraal soek
met my laaste krag
voel ek die skaduwee
voor my op die grond;
’n Lig van agter
roep my na die Ooste
en uit die mis
strompel ek orent
net om na my eie hede
om te draai
dan tred ek terug
op my voetspore
na waar die son
die wasige gordyn stukkend skeur;
daar lê sy Liefde en my heil
en met elke tree
voor my skaduwee uit,
roep my siel
in lofprysing
“Hosanna Jerusalem!”
©adéle theron