Die man het gery tussen Tosca en Bray (Kalahari) toe sy motor breek langs die pad. Dit was al laat aand en daar kom geen ander voertuie verby nie. Gelukkig sien hy ‘n liggie in die verte brand en hy stap aan na die plaashuis om te gaan hulp soek.
By die plaashuis aangekom is almal besig om te eet. Hy klop aan en vra toe vir hulp. Maar die oom sê hy moet eers ietsie saam met hulle eet. Die oom stel hom toe aan sy vrou en dogter voorl.
Na hulle klaar geëet het sê die oom:“Jong jy sal moet oorslaap want dis nou al laat. Ons sal môreoggend die muile inspan en jou moutertjie gaan insleep. Dan kan mens kyk wat fout is. Maar jy moet weet ons het net twee kamers. Ek en die ou tannie slaap in die een kamer. So jy sal by Sussie in haar kamer moet slaap. Sy het net ‘n dubbelbed in haar kamer. Maar jy hoef nou nie te kommer nie ek en die tannie sal kussings tussen julle pak so dat jy aan die een kant kan slaap en sy aan die anderkant. En die duiwel haal jou as jy oor daai kussings klim vannag.”
So slaap hulle die aand. Die volgende oggend stap die man en Sussie kraal toe om die muile te gaan haal. Toe hulle by die kraal verby loop kom daar ‘n stuitige dwarrel en hy gryp haar kappie en waai dit oor die kraalmuur.
Die man sê vir haar: “Moenie worry nie ek spring gou oor die kraalmuur en gaan haal gou jou kappie vir jou.”
En Sussie sê vir hom: “Los maar, as jy gisteraand nie eers oor die kussings kon kom nie, hoe sal jy nou oor die kraal se muur kom?”
*Ouma Martjie was Anton se ouma Nortjé aan moederskant.
©Orange Blue
©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie skrywe mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie