http://www.landbou.com/nuus/staan-sterk-oor-pekelwater-versoek-amieDie Assosiasie van Vleisinvoerders en -uitvoerders (AMIE) het die Regering dringend versoek om nie te swig onder druk van pluimveeprodusente wat beswaar maak teen die voorgestelde toegelate vlakke van pekelwater in bevrore hoendervleis nie.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het gewysigde regulasies aangekondig om die hoeveelheid pekelwater wat by hoender gevoeg word, te verminder. Die toegelate vlakke van pekelwater is met die helfte gesnoei om ’n maksimum van 15% van die gewig by individueel verpakte bevrore hoenderporsies (IQF) te wees.
Pluimveeprodusente en verbruikersliggame is geraadpleeg, maar omdat ’n ooreenkoms nie bereik kon word nie, was die departement verplig om ’n finale besluit te neem. Die departement het die pluimveebedryf ’n jaar gegee om sy pekelwatervlakke aan te pas.
Pekelwater word in hoender- en ander vleisprodukte ingespuit om die sappigheid en geur behoue te laat bly. In 2011 het ’n ondersoek deur die Regering egter bevind dat produsente die proses misbruik deur buitensporige hoeveelhede pekelwater in hul produkte te gebruik.
AMIE sê die nuwe vlak sal verbruikersuitbuiting vir kommersiële gewin verminder, en voeg by dat hy inderwaarheid ten gunste is van 'n verbod op die byvoeging van pekelwater. “AMIE is, en was nog altyd, totaal gekant teen die blatante uitbuiting van verbruikers deur middel van die oormatige gebruik van pekelwater,” lui 'n verklaring deur mnr. David Wolpert, die hoof uitvoerende beampte.
Hy het ook beklemtoon dat die totale volume pekelwater in plaaslik geproduseerde hoendervleis 500 miljoen liter per jaar oorskry – meer as dubbel die totale jaarlikse invoer van hoendervleis na Suid-Afrika. “Ons vra die departement om sy beslissing so gou moontlik deur te voer om sodoende weer morele, etiese en veiligheidswaardes in die bedryf te vestig.”
Daar is aanduidings dat Astral (met Country Fair, Mountain Valley en National Chicks onder sy vlerk) se winste die grootste knou sal kry weens die nuwe beperking op pekelvlakke.
Mnr. Chris Schutte, die hoof uitvoerende beampte van Astral, het gesê die gewysigde regulasie sal die prys van bevrore produkte beïnvloed, en dat die pluimveebedryf dit moet teenstaan.