Nou ja, so kom ek alweer aan die begin van 'n nuwe rigting in my daaglikse doen en late.
Ek's oppad Wildernes toe om 'n baie fragile Mamma te gaan optel om hier by my in die Moederstad te kom bly.
Ek moes dinge bietjie verander by die huis om haar te akkommodeer. Sy sou dit ook vir my gedoen het, as dit die geval was dat ek hulp nodig sou he.
Dat dit 'n uitdaging gaan wees om alles wat nodig is in een dag in te prop, is nie te betwyfel. My slaapure, alreeds beperk tot soms min, gaan nou nog meer krimp.
Sy was nog altyd 'n baie sterk en besige vrou. Maar een of ander tyd begin die ouderdom jou wys dat jy nie vir ewig hier op aarde sal 'dwell' nie.
Op 90jaar het Osteoporose in die linker heup en knie oorgeneem en kan sy nie meer loop sonder haar kierie. (Op my aandrang, het sy die opvoubare kierie in die tas gepak die vorige keer toe sy hier gekuier het. 'Ma sal dit maar saamneem net omdat jy so 'nag'.) Binnekort sal ons 'n rystoel aanskaf om die strate en die winkelsentrums aan te durf. Ja, Ouma gaan nuwe wiele kry. Sou ons 'n lisensie en nommerplate nodig he vir so 'n 'voertuig'?
Die verstand is nog helder. Blokkiesraaisels en lees hou dit besig. Ook hou sy van koerant lees op internet. Ons sal ook Google inspan om meer te wete te kom van Osteoporose en hoe ons die dinge kan hanteer.
Nou ja, ons het nie altyd beheer oor hoe ons lewens gaan verloop nie. Ons het wel beheer oor hoe ons dit gaan hanteer wat die lewe ons mee gooi. Of hoe?