Liewe maat, ek weet jy vra nie noodwendig vir 'n antwoord nei, maar ek weet wanneer ek iets in my binneste voel om vir iemand te sê. En ek gaan hierdie nou haal omdat ek dit so uur gelede raakgelees het en ek weet dis om nou vir jou te gee .... sodat jy nie oor jou 9 of 5 studente moet kommer nie .... nee, nie kommer nie, maar moedeloos moet word in jouself omdat jy nie 200 mense tot opwindende toekomste kan lei nie. Dus, wees verwonderd-dankbaar omdat God jou gebruik om net een, of dalk 5 mense te lei na waar Hy hul wil sien
MEER AS NET PRAAT (Isak Burger)
Luk 15:10: “Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer”.
Engele het gejubel toe hulle die onbeskryflike openbaring van God se krag in die skepping van die heelal gesien het (Job 38:7), en hulle juig met blydskap wanneer een sondaar hom of haar bekeer.
Kan daar enige verband wees tussen hierdie twee situasies? Om die heelal uit niks te skep, was tog ʼn oorweldigende openbaring van Goddelike krag! En die redding van ʼn sondaar? Verg dit minder van God? Inteendeel. Om die heelal te skep moes God net praat. Om sondaars te red kon Hy nie net praat nie – Hy moes ly en sterf! Om die heelal te skep het Hom ses dae geneem – hoe ons hierdie “ses dae” ook al wil interpreteer. Om ʼn sondaar te red het Hom sy lewe en dood op aarde gekos.
Kortom, as die skepping van hierdie wonderlike heelal ʼn asemrowende wonderwerk was, is die redding van ʼn sondaar nog 'n groter wonder. Behalwe dat sy groot krag ook hierin geopenbaar word, sien die engele ander eienskappe wat hulle nog nooit vantevore só gesien het nie: sy genade en liefde. Geen wonder dat die misterie van saligheid iets is “waarin selfs engele begerig is om insig te kry” nie! (1 Pet 1:12).
Iewers in die verre verskiet het die engele wel deeglik kennis gemaak met die regverdigheid van God, toe sommige engele in opstand teen God gekom het en uit die hemel gewerp is. Maar met die redding van ʼn sondaar is die misterie van genade en liefde so groot en oorweldigend en bring dit soveel blydskap mee -omdat God sy enigste Seun in die plek van slegte mense gegee het, sodat Hy kan sterf en hulle gered kan word.
GEBED: "Dankie vir u genade onbeskryflik groot, Here. Amen."