Spesiale dank aan Adéle vir die gebruik van haar pragtige gedig as voorbeeld vir hierdie digstruktuur
Dikwels handel dit oor gestorwenes of die verlies van 'n voorwerp of plek. Dus 'n rougedig wat soms ook handel oor die melancholiese gevoel oor die lot van 'n volk/land/mensdom. In tradisionele elegieë sluit die digter met tye ‘n sin van uiteindelike triomf of hoop of ‘n uitdrukking van sy geloof van ‘n toekomstige lewe in, beskryf Gert Strydom dit in sy uiteensetting. Daar is geen voorgestelde rymvorm vir 'n elegie nie.
anencephalyOor die aarde heen het die Heer gesoek
na ’n tuiste om vir haar ’n plek te boek.
Op julle woning het Hy sy oë laat rus
en teen ’n voorkoppie haar sag gekus;
saam met ’n engel het Hy haar gestuur
bygestaan toe ’n moeder baringsnood verduur.
Volmaak met handjies en voetjies soos enig ander
maar haar brein het Hy in die Hemel gebêre.
Opgefrommelde vreugde en ongeloof…
skok het jul toekomsplanne diep gekloof.
Maande en jare gevul met angs en lyde,
maar julle het haar versorg tot die laaste einde-
haar lyfie beskerm teen koue en seerkry,
gekeer dat die onbekende haar meer laat ly;
gewonder of sy jul drukkies kon voel,
want sy kon nie sien of hoor of iets vertel.
Swakke mense, maar deur Hom uitverkies
om Sy genade oorvloedig op uit te giet
en vriend en vreemdeling kon saam ervaar
hoe Christus se nabyheid en liefde om jul skaar.
© Adéle