Cornelis Johannes Roelofse is op 17 Junie 1952 in George gebore. Hy het in 1970 by Kwaggas Hoërskool gematrikuleer en volg daarna hoofsaaklik ’n loopbaan in misdaadvoorkoming. Hy is tans verbonde aan die Universiteit van Limpopo en mede-professor in Kriminologie en Kriminele Regspleging. Hy het die grade BA, BA Hons en MA aan Unisa behaal en ’n PhD in Kriminologie aan die Universiteit van Limpopo. In Junie 1999 is hy tot die Wetgewer van Limpopo verkies waar hy die leier van die ACDP was. Prof. Roelofse het geen naskoolse opleiding in Afrikaans ontvang nie maar het baie vakartikels die lig laat sien asook ’n boek oor gemeenskapspolisiëring, wat in Julie 2007 verskyn het. Hy is n internasionaal erkende akadimikus wat ook al in die VSA en Europa gepubliseer het. In 2010 was hy die voorsitter van n internasionale kongres oor polisiëring wat in Malta gehou is. Cornelis het reeds twee digbundels die lig laat sien, Libithanos in 2007 en Anastasios in 2012.In 2012 het hy ook n boek, Spreuke en Gesegdes van Roelofse gepubliseer. Hy skilder ook, hoofsaaklik met olie en paletmes. Hy het reeds twee solo-uitstallings gehou. Hy is ’n verordineerde pastoor en bedien interkerklik.