Ras ’n ál groter saak in Europa
Leopold Scholtz
Vrydag 31 Mei 2013
In Suid-Afrika het die onlangse rasse-onluste in Swede nie veel aandag getrek nie, maar die internasionale pers was vol daarvan. Jong mense wie se afkoms in die Derde Wêreld lê, het massaal die strate ingetrek, motors aan die brand gesteek, winkelvensters stukkend geslaan en geplunder, en die polisie met klippe bestook.
Die vonk in die kruitvat was toe die polisie twee weke gelede ’n immigrant in sy woonstel doodgeskiet het nadat hy glo sy vrou en kinders met ’n mes gedreig het. Die onluste het in die Stockholmse buurt Husby begin, maar het vinnig na ander wyke uitgekring, en van daar na ander stede.
Sake is nou weer min of meer rustig, maar ’n mens kan aanvaar dat dit steeds onder die oppervlak prut.
In my navorsing oor die ANC/SAKP en Swapo se verlede in die jare sewentig en tagtig het die rol van Swede dikwels opgeduik. Swede het ’n leidende rol gespeel om hulp aan die ANC/SAKP en Swapo te verleen. Dit het gewissel van beurse aan swart Suid-Afrikaners en Namibiërs tot inisiatiewe om die destydse Suid-Afrikaanse regering op alle fronte te isoleer.
Suid-Afrikaanse troepe wat aan oorgrens-operasies teen Swapo in Angola deelgeneem het, het dikwels afgekom op Sweedse blikkieskos en propagandamateriaal teen apartheid. Die Swede het hulself gesien as moreel, gewetensvol, aan die kant van die verdruktes – kort duskant heilig.
Getuienis dat die Suider-Afrikaanse “bevrydingsbewegings” andersdenkendes in eie kring gruwelik mishandel en vervolg het, is willens en wetens geïgnoreer. ’n Televisiejoernalis, ene Per Sanders, het selfs leuenagtige dokumentêre programme gemaak oor hoe weermagsoldate in die operasionele gebied na willekeur plunder, vermoor en verkrag.
Swede het sy deure wyd oopgegooi vir die instroming van arm Derdewêreldse immigrante. Die Swede was volgens hulle regtig fantastiese mense en het dikwels op ander, soos die Amerikaners en die wit Suid-Afrikaners, neergekyk.
Maar die praktyk het ’n lelike manier om jou aan die agterkant te byt wanneer jy nie kyk nie. Dit is wat nou in Swede gebeur het.
Luidens ontledings in die internasionale media is 80% van die bevolking in Husby, waar die onluste ontstaan het, immigrante. Gebore Swede wil nie meer daar woon nie en trek weg.
Deel van die probleem is ook dat die immigrante, ondanks die druk van die polities korrekte kultuur, nie deur die gebore Swede aanvaar word nie. Die gemiddelde werkloosheidsyfer in die land is 8%, maar onder jong immigrante het maklik ’n kwart nie werk nie.
Die persentasie jong immigrante wat nie hul skoolopleiding voltooi nie, is toringhoog. En hul eise is hoog.
Soos Dejan Stankovic, die Serwies gebore bestuurder van ’n jeugprogram aan The New York Times gesê het, baie jeugdiges eis van die staat om werk in hul eie woonbuurte aan hulle te verskaf. “Daar is baie mense tussen 20 en 22 wat sê: ‘Ek wil werk hê, ek wil dit nóú hê, en ek wil hier bly.’ Dit is húl probleem, maar hulle maak dit die regering se probleem.”
Ander Europese lande ervaar iets soortgelyks. Twee jaar gelede het Britse stede ontplof. In 2005 het grootskaalse geweldpleging onder immigrante in Clichy-sous-Bois, wat as ’n Paryse township beskryf kan word, uitgebreek. In Duitsland het ’n moedelose bondskanselier Angela Merkel vandeesweek gesê miskien moet nie meer van “integrasie” tussen Duitsers en immigrante gepraat word nie, maar van “deelname en respek”. Dis duidelik dat ook sy nie mooi weet waarheen met die probleem nie.
Dit alles beteken nie dat rassediskriminasie en apartheid die antwoord is nie. Dit beteken wel dat van nuuts af oor die probleem gedink moet word.
• Die skrywer is Media24 se korrespondent in Europa.