As die waterpype bars
Weens ‘n gebarste waterpyp iewers buitekant een van die huise, moes ons gister die water toedraai om die stukkende pyp oop te grou. Dis al moerasnat daar en ‘n modderpappery bemoeilik die werk. Teen laatmiddag was die pyp nog nie oopgegrawe nie. Ons word belowe dat die hoë tenk waarvandaan ons water kom, se groot krane voor donker vir ‘n uur lank oopgedraai sal word.
My lewe was ook al ‘n modderpappery gewees. Daardie tye het probleme, asof vanuit ‘n reservoir se dikste afvoerpype, my lewenshuis oorstroom en my tuin in ‘n moeras omskep … alles verdrink en verrot. Het ek in sak en as, uur na uur in die oorstroomde leivore gesit en myself bejammer. Ander tye in vrees, angstig die vonnisse wat oor my voltrek word, afgewag. As dit nie genoeg was nie, het emmers dowwe trane uit my hart dit aangevul.
Net so het ek droogtes ook ondervind. Drupsgewys myself aan die lewe probeer hou met lekseltjies opbou-woorde, Bybelversies en stilte in my musiekliefde. Vir maande lank het ek my teruggetrek in my kaggelhoekie in; my afgesny van die droë, dorre woestyn met vriende te ver, tuisbly-jare of buitenshuis-werksomstandighede onlekker en elke week rondom donkermaan, ‘n tuin vol spoke.
Maar te midde van elke krisisseisoen het my hartstuin se blomme en struike weer deur die modderslik gegroei, geweier om op te gee of te vergaan; die slik se voedingstowwe gebruik om net beter te groei. Elke sonsopkoms, tesame met die volmaantye in my lewe, het my hart warm gemaak en my met dieper glimlagplooie om my mond gelaat. Soos wat my plooie meer word, word die krisistye minder, dink ek. Maar nee, is dit nie omdat ek vandag baie nader aan God leef nie? Nie net in sy voetspore nie, maar Hy in my hart. Vroeër jare het ek teen die prikkels geskop of my oorgegee aan moedelose depressie en met moeite uit so ‘n gat geklim.
Maar iewers … êrens, sonder dat ek onthou waar en wanneer, het ek besef ek hoef dit nie self te doen nie. Die modderstortings self te hanteer en daaruit te klim nie. God keer dit ten volle. Hy help my nie net daaruit nie, maar keer dat dit my bereik. Al wat ek moet doen, is om my hart, my huis, my lewe aan Christus oor te gee, my sonde te bely en vergifnis te vra. Nie eers met groot woorde en voorgeskrewe gebede nie.
Al wat nie saam met die modderslik minder raak nie, is my trane. Trane van berou. Maar hulle is rond en helderblink en was my siel skoon. Geen gebarste pype meer, wat nie herstel kan word nie.
Dankie Here, dat U nie Iemand is wat net ‘n uur lank beskikbaar is nie, maar elke sekonde van elke vier-en-twintig uur ons Herder en Raadsman is. Amen, amen Here.
©adéle theron