Duisend-en-een...
Nou die oggend is ek van Bellville af op pad stad toe. Die N1 is besig.
Ek is alleen in die motor en luister KFM 94.5 se vroegoggend-verkeersveiligheidsverslag. (Een van daai uit-asem-uit woorde.) Dit werk vir die radio, want as die program klaar aangekondig is, is ‘n groot gedeelte van die program se tyd verstreke.)
Ek luister vir twee redes. Eerstens is daar darem ‘n ander stem in die motor en tweedens (die eintlike rede) verdoesel dit die ou motor se ingeboude “Shake Rattle ‘n Roll” musiek.
Ek kom agter dat die stasie gewild is onder die motorbestuurders hier in die Kaap toe die omroeper ‘n kwinkslag los en almal rondom my saam lag.
Hy verduidelik oor veiligheidsgordels en ek sien hoe ‘n paar ou omies so in die ry na daai swart belde van hulle gryp.
Hy gaan verder. Jou aandag moet te alle tye op die pad wees. Die tante voor my los dadelik haar spieëltjie en pak haar oorlogsverf parafernalia haastig weg. Die ou in die motor langsaan plak sy papbord op die sitplek langs hom neer, gooi sy skeermes in die handskoenkompartement, haal sy knieë onder die stuurwiel uit en kyk skuldig rond om te sien wie hom almal gesien het.
Toe begin die man daar praat oor reaksietye en volgafstand. Jy moet terugval tot jy twee sekondes agter die motor voor jou ry. Jy doen dit deur ‘n stilstaande punt langs die pad te kies. Wanneer die motor voor jou daar verbygaan, begin jy tel. “Tienduisend en een, Tienduisend en twee.” As jou motor by die punt verbygaan voor jy klaar getel het is jy te naby die motor voor jou. Met anders woorde jy gaan nie betyds kan stop in ‘n noodgeval nie.
Op die stadium is ek regoor Canal Walk Winkelsentrum. Ek kyk op en sien hoe die motors voor my begin terugval om hul volgafstande reg te kry en voor ek my oë kan uitvee, is ek terug in Bellville.
In 1965 gaan ek plaasskool toe. Ek leer om op ‘n koue oggend eers die beesmis van my kaalvoete af te spoel voordat ek in die klas ingaan. Ek leer dat ek pouse kans sal kry om die toebroodjies wat my ma met haar eie twee handjies ingesit het, te eet. Ek leer dat jy nie by ‘n meisiekind in die toilet staan en gesels terwyl sy piepie nie. Ek leer van klei speel. Ek leer dat Juffrou altyd reg is, maar dat Pa harder slaan as sy.
Later gaan ek dorpskool toe en leer skoene dra. Leer dat ‘n mens altyd ‘n baadjie en ‘n das dra al is dit warm. Ek leer dat jou baadjie altyd vasgeknoop moet wees as jy nie in die klas is nie.
Ek leer dat jy jou brood- en lekkergoedpapiere in jou baadjiesakke prop tot jy later by ‘n drom verbyloop, dan maak jy jou sakke leeg binne-in die drom.
Ek leer respek vir my onderwysers en ander ouer mense. Hoe om in die klas stil te bly. Dissipline.
In 2011 leer ek om tot tien te tel wanneer graad 8 leerders my ignoreer of my klas bemors. Dis hulle plig en deel van werkskepping. Ek leer tel wanneer hulle vir onderwysers weghardloop en terugpraat wanneer hulle gedissiplineer word.
Miskien moet ek my reaksietye aanpas en my volgafstand handhaaf. Dalk, net dalk, moet ek stadig tot by ‘n honderd tel. Dalk, voor ek my oë kan uitvee, is ek terug in 1965...
Een duisend en een, Een duisend en twee, Een dui...
