In koue, eensaam nagte
as alleenwees teen die ruit vasys
en verlange spookagtig
in dowwe kerslig dans,
vou ek my woorde
knus om jou skouers vas,
wikkel elke klankie,elke lettergreep
styf teen jou lyf en hart.
In dae wat vrees en angs
jou lewe wil versuur
en onmag soos lood
aan jou hande hang,
hang ek my woorde
sag, vertroostend om jou hals,
hou die woorde bakhand
sodat jou sorge daarin val.
In tye waar jou hart vol vreug is
en jou lippe van liefde sing,
wanneer jou oë glimlag
en jou gesig die son gaan haal,
dans my woorde om jou voete
lig en dartelend soos die van ‘n kind,
speel ek ‘n jubellied
op die snare van jou hart.
En as daar tye van verset kom
wat jou hart met woede vul,
as dinge net te veel word
en alles jou ontstel,
smeer ek trooswoord oor die wonde
laat dit koel oor jou voorkop gaan,
spreek ek in sinne van rus en vrede,
van vreugde en vergifnis.
Ek wil jou liefhê met my woorde
met al die nuanses van my taal,
wil elke letter, elke frase,
elke idioom gebruik
om jou te verduidelik
hoe kosbaar jy sal bly.