Groete aan Margaret
Stil, my Britse broers,
daar gaan jul Ystervrou verby,
sy groet en dis veroulaas,
daar was nog maar één soos sy;
bekyk haar goed.
Haar steeds kille oog,
nou dof en ingesink,
soos vuurvonk kon sy blink,
koue staal in haar blik,
‘n leeglêer- en parlementslidskrik.
Haar stap en kraggebaar
nou bedaar, is sy jul leier steeds
per erestoet en ruiterskaar.
Beslis, soos sy julle s'n was,
en is, nou op pad na haar laaste rus.
Al is haar oog verswak,
kyk sy fier omhoog,
nie meer in julle
maar in God se oog.
Al krenk haar denke kromgeknak
en afdraans af,
al klop haar hart nie eens meer flou,
soos altyd is sy, nog nou,
vir haar volk en vaderland –
tot in haar graf trou.
Hiérdie vuurdame julle kind -
rou o Engeland!
Geseën was julle gewees -
soveel inbors, soveel gees,
soveel vrugte sou haar leiding dra.
Statig na die neëntien-skoot saluut.
Stil, my Britse broers. Werda!
* Werda - “Halt, wie gaan daar!
* Geskoei op Jan F.E. Cilliers se gedig “Generaal De Wet”