Op Woes gaan haal sodat Oom Hannes dit ook kan hoor.
So staat en kyk ek oor die agterdeur.
Dis winter en die appelbome staan mistroostig, kaalgat en bewend in die koue winterwind.
Die wolke speel aan-aan, en wegkruiperjie, agter die grougrys pieke van die Lankloof se berge. Nou en dan kry een seer en huil dan lang slierte trane op die reeds deurdrenkte aarde.
Die hele plaas lyk mistroostroostig.
Hier onder teen die randjie staan die kleinhuisie met sy plat kop. Die wit kalk loop in traandruppels saam met die reënwater teen sy mure af en gaan vlek in die grond van sy fondasies.
As hy kon praat. Watter stories sou hy nie alles kon vertel?
Sy houtstoel met die gat sonder rieme. Gemaak van dennehout, veredel tot stinkhout. Wat moes hy nie al alles beleef nie.
Die storie van Tant Sannie se haaksel wat sy met die ou varkvet gebraai het. Die middagete was uit die nate lekker en almal het geëet asof eet uit die mode gaan.
Varsgebakte plaasbrood wat, stomend, regte plaasbotter en appelkooskonfyt tot afdruplekkerte laat smelt. Dis hemels saam met haaksel. Gebraaide skaaprib en aartappels op ‘n bed van rosyntjierys. Wie kan nee sê vir ‘n opvolgbord gelaai met hierdie heerlike sondaarsmaal wat drup in die vette van die genade.
Na die feesmaal raak dit stil soos oorvol pensvelle die ooglede aftrek na slaap se kant.
So om en by halfvier begin daai haaksel engtevrees ontwikkel in die donker ingewand van mens en wil dit met alle geweld daar uit. Dit begin te draai en grom.
Op daardie dag het die vergete eensaam kleinhuisie die toppunt van sy gewildheid bereik. Die mense het hom met ope arms tegemoet gehol, so asof hy nou net, na ‘n maandelange vakansie, van die vliegtuig afstap.
Hulle het om hom staan en trippel en vir sy aandag gesmeek en baklei.
En in die vyfsterbehandeling word hy bedien met varsgebakte plaasbrood wat, stomend, regte plaasbotter en appelkooskonfyt tot afdruplekkerte laat smelt het. Hemels saam met haaksel. Gebraaide skaaprib en aartappels gemeng met rosyntjierys. Wie kan nee sê vir ‘n tweede en ‘n derde en ‘n vierde porsie van hierdie heerlike sondaarsmaal wat drup in die vette van die genade.
Ek raak bewus van oupa wat agter my staan. Hy volg my blik.
“Ja my kind. Daai vas al die tyd het nou ook al sy eie kamer in die huis gekry. Ek het al gewonder of ons hom nou maar moet toegooi en afbreek. Maar waar gaan ons heen as die haakselstorms ons weer tref?”
En so kom en gaan die seisoene van verandering.