Oupa sê altoos: “Verbode vrugte se konfyt is nie altyd so soet nie.”
Ek staan en kou aan ‘n lekker sterk koppie boeretroos oor die agterdeur. Teen die hang kruip die aandskemer stadig en onverbiddelik af na die kloof. Die groen hange verkleur na dofblou en grys. Nie meer lank nie dan sluk die berg se skadu ook ons huisie in.
Die telefoon lui.
Ek antwoord.
Dis Antie Gertruida. Ek herken eers nie haar stem nie want ons het meer as vyftien jaar laas van haar gehoor. Dit was voordat sy met daardie Isaacs jood van Wellington getroud is.
Ek onthou Oupa het haar destyds gewaarsku dat mans wat besny is dalk kop kan verloor.
"My kind" het hy gemaan, "dit maak nie saak hoe goed die wyn is nie, as jy dit met asyn meng word dit asyn."
Hy het ook iets gepraat daarvan dat kanibalisme dalk die rede is waarom hulle nie varkvleis eet nie, maar dit het ek nooit mooi verstaan nie. Ek weet net dat boere en jode nie baie lief was vir mekaar in daai tyd nie. Iets te doen gehad met die vermenging van kulture.
Hoe dit ook al sy, Antie Gertruida is sak en pak hier weg met die Lanklooftrein Wellington toe en ons het nie weer van haar gehoor nie.
Tot nou toe.
Sy wil met Oupa praat.
Ek gee die foon vir hom en hoor net die een helfte van die gesprek.
“Ja?... Wie? ... Gertruida? ... Wie is ek om klip te gooi? ... Die treinspoor sal altyd vir jou terugloop Joubertina toe my kind. ... Goed so. Dan sien ons jou.”
Oupa sit die foon neer.
Hy moes die vraagteken tussen my ogies gesien het. “Miena moet more Gertjie se kamer regtrek. Nuwe komberse en so aan. Warm komberse... Sy het lank genoeg koud geslaap.”
Toe ek omdraai om vir ons koffie te gooi hoor ek hom met homself praat. “’n Mens kan ‘n stokkielekker net so lank suig, dan val hy van sy stokkie af en maak ‘n taai gemors.”