Wes-Kaap se "Plaaswerker- staking", November 2012.
Die swart week in die Bolandse dorpe in die helfte van November sal nog lank onthou word. Tonele van opruiende skares wat klein Bolandse dorpies se winkels plunder en wingerde, boorde , graanlande en pakstore brandsteek kon vir aande lank op TV gesien word, alles onder die vaandel van plaaswerker-betogings vir beter lone en werksomstandighede.
Wat 'n klug. Die boewery, aangestig deur polities-gedrewe vakbonde wat byna geen ondersteuning onder plaaswerkers het nie, is gepleeg deur werklose plakkers wat elke dorp en stad in ons land omring en indring, aangery deur die huidige regering in die jaar voor die 1994 verkiesing uit die ou tuislande na veral die oorwegende blank en bruin gebied van Wes-Kaap.
Werklose mense wat deur niemand in diens geneem wil word nie behalwe deur boere wat seisoenaal vir kort tydperke aan hulle werk kan verskaf. Onder hulle tel ook talle onwettige immigrante uit 'n bankrot en verwoeste Zimbabwe en 'n arm Lesotho wat aan hulle eie burgers geen heenkome kan bied nie. Voeg nou by hierdie bestanddele 'n vakbond wat by mynopstande hulle gesag en lede verloor teen 'n kompeterende vakbond wat dit reg gekry het om deur geweld en brandstigting hulle lone te verdubbel. Voeg by dit 'n goeie dosis van swart onverdraagsaamheid en rassehaat teen 'n Wes-Kaapse regering wat deur oorwegend bruin en blanke kiesers verkies is.
Al wat nog kortkom is 'n gerieflike slaansak en dit is die Bolandse boere wat oor honderde jare al saam met hul bruin werkers goeie werksverhoudings opgebou het en van die grootste werkverskaffers in Wes-Kaap is. Maar genoeg hiervan, die eintlike rede waarom ek hierdie brief skryf gaan eintlik oor die volgende vraag. Hoekom het hierdie geweld by Goudini en Worcester verby gegaan terwyl dit rondom gebrand het. ?
So onlangs nog as 2008 was ons klein dorpie, Rawsonville, byna daagliks op die koerante se voorblaaie en op die TV se nuuskanale. Julle sal onthou van die tragiese voorval waarin 'n jong blanke rugbyspeler van Rawsonville tydens 'n wedstryd teen die Delicious-rugbyspan van Ceres deur 'n speler doodgeskop is.
Terwyl die hofsaak op Rawsonville oor die voorval aan die gang was is daar skielik klagte van onwettige uitsetting , molestering en aanranding teen boere van Goudini-Weg ingedien . Glad nie toeval dat die indiener van die klag 'n bruin polisieamptenaar van die genoemde rugbyklub van Ceres was nie. Dit was 'n duidelike komplot om die aandag van die rugbyklub te verskuif na die boere wat die skurke moet wees. Interessant om te sien dat die media gepraat het van Rawsonville boere en nie van Goudini nie.
Tydens die hofsaak teen die boere het Cosatu met Tony Ehrenreich aan die spits by die hofsaal betoog en met opruiende toesprake teen die boere van Rawsonville uitgevaar. Alles natuurlik in detail op die TV se nuuskanale en die koerante se voorblaaie.
Daar is getuig dat 'n bruin werker agter 'n bakkie gesleep is, dat hy deur die boere in die sy geskiet is, dat sy suster, wat ook 'n klaagster was, deur hulle verkrag is, dat hulle deur die boere van die plaas afgesit is en gedreig is.
Vir weke het die media berigte oor die hofsaak geplaas maar toe die klaagster later in die hof getuig dat sy deur die polisieamptenaar gedwing was om hierdie leuns te vertel en dat al die ander klagtes ook leuns was, toe was die media besonder stil en was daar gladnie regstellings of verskonings geplaas nie. Wes-Kaap Agri het klagte van meineed teen die klaers ingedien. Wat daarvan geword het het ons nog nie in die media gesien nie. Geen woord van verskoning deur meneer Ehrenreich nie.
Wat het van die rugby-moord geword? Die Delicious klub is deur die Boland Rugbyunie vir 'n tydperk geskors!
Tydens al hierdie onreg en leuns teen die boere was daar merkbare kalmte en harmonie op ons plase. Hoekom! Hoekom ook nou die rustigheid in 2012 ?
Omdat Jesus Christus heers in ons vallei. Omdat ons boere omgee vir ons werkers en ook na hulle geestelike welsyn omsien. Omdat ons weet dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie maar teen die bose magte in die lug! Omdat die Here die afgelope 16 jaar herlewing onder alle rassegroepe in ons vallei teweeggebring het.
Na 'n byeenkoms in 2002 in die Paarl van boere uit die Boland omgewing waar ons ons afhanklikheid aan die Skepper bely het en John Banza, 'n swart prediker ons aangemoedig het om ons plase aan die Here te wy, was dit my voorreg om die nag terug by die huis, saam met my seun ons plaas se grense om te ry en te sê: " Here, ons gee die plaas aan U, ons is net rentmeesters hiervan."
Terwyl ons so ry sien ook die ligte van bakkies op die naburige plase waar jong boere dieselfde doen.
Talle dorpe in die Boland, vanaf Loeriesfontein in die weste , Oudtshoorn en Bredasdorp in die ooste, Plumstead in die suide tot Sutherland in die noorde het dieselfde mense van Goudini sien optree in eenhonderd-en-ses passiespel optredes oor 'n tydperk van tien jaar waar ons voor alle gemeenskappe opgetree het om die verlossingsboodskap te bring aan almal wat wou luister! Vier van die optredes het ons hier plaaslik vir ons plaaswerkers gerhou.
In 2008 het ons na al die toegangspaaie van Goudini gegaan en en daar houtpenne ingeslaan om simbolies die streek vir God af te pen en aan Satan te sê dat hy geen reg en mag in ons streek het nie en dat ons in die naam van Jesus die bose magte wat nog binne is sal uitwerp uit ons gebied.
Op talle plase word die daaglikse werksaamhede saam met die werkers met gebed en skriflesing begin. In Goudini is daar twee groepe mans wat ook eenmaal per week die afgelope sestien jaar al vroegoggend bymekaar kom en die hele gemeenskap aan die Here opdra en vir hulle voorbidding doen.
Die afgelope week het ons saam vergader om aan ons Skepper dank te bring vir die vrede in ons vallei waarna ons weer die penne by ons ingange gaan besoek het en God gesmeek het vir vrede en genesing in ons hele land.
Soortgelyke bidgroepe is ook in die Overhex-Nuy wyk in Worcester.
Ons weet Cosatu sal weer met aanslae teen ons gemeenskap kom want hulle kan dit nie sluk dat hulle geen lede onder die plaaswerkers kan werf nie, ten spyte van al hulle onhaalbare beloftes. Ons weet ons is as Christene nie gevrywaar van probleme en rampe in hierdie lewe nie, maar ons weet ook dat "alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet, die wat volgens sy besluit geroep is"
My hart gaan uit na almal wat skade gely het, geintimideer was en in vrees geleef het in die afgelope weke van onrus. WEES VERSEKER DAARVAN DAT OOK GEREELD VIR JULLE GEBID IS EN NOG STEEDS GEBID WORD!
Dankie aan ons bruin gemeenskap vir julle goeie gesindheid en naasteliefde.
Dankie aan Phillip Jonker vir jou getuienis wat onder ons boere op internet sirkuleer.
Dankie Hemelse Vader vir U vrede wat alle verstand te bowe gaan.
Pieter du Toit, Klipdrift, Rawsonville. 29 November 2012