Loko-motief:
Die stilte sif stadig neer op veld, rant en vlei ...
Fisant families vroetel vervaard ...
Patryse pruttel en praat; probeer hul kuikens versamel ...
Tarentale trakteer die bosbewoners met stotter en stamel ...
Hadedas wat skellend sterwende sonstrale loof ...
Saggies versmoor verterende vingers van die nag, die wykende goud-flenters van die verdwynende dag...
En die nag sprei sy donker swart kombersie so knus oor die wye wereld, vir alle dag-lewe om te gaan rus!
Verruklike taferele geverf deur sagte sonnestraal, skilder kleurvolle kastele wat loof, sonder mense-taal ...
Die skurwe, skerp rûe van omringende rante versag met die sluipende, kruipende newels van naderend’ nag ...
Bome, bosse, silhoëte vervorm, verdof en versmelt met die res van die verdonkerende, verdwynende veld ...
Weifelend verskyn daar oorkant die valleie so ver, die mistige miniatuur-melkweg van Baberton-liggies, wat vertoon soos oer-oue sterre se geelbleek gesiggies ...
Al wat mens nou hoor is kore van krieke, muggies en muidjies en die veld-uiltjies, word ge-eggo deur nuwe naggeluidjies deur die blare die strelende, geurvolle bergbries wat sug.
©