Ek is nou nie wat hulle sal sê, “’n Groot visserman” nie maar, sonder om my eie voete te kielie, as ek die slag visvang doen ek dit groot.
So bekruip ek en Wimpie, my ou vissersmaat, saam daai rotse by Hermanus.
Dis middel Julie. Dis koud in die Suidkaap. Ons is dus dik toegedraai in ou warm klere. Bo-oor alles ons plastiek visserspakke. Ek voel soos ‘n oorstopte worsderm en kan behoorlik nie draai in al die verpakking nie.
Swaar dra ons aan alles. Die rotse is steil en glad maar ons kom wel bo.
Bo gekom, maak ons onself gemaklik met die emmer vol water waarin die lewendige harders swem, tussen ons.
Die harder word versigtig aan die hoek geryg want hy moet nog lewe en spartel as hy in die water land. Die roofvis soos kabeljou gaan mos vir die verswakte vis en hoe meer hy spartel hoe beter die kans dat die kabeljou hom sal sien.
Die ingooi is maar ‘n stywe affêre met al die klere. Maar so styf styf kom die lyne darem in die water.
Nou begin die lekkerste deel van visvang.
Onner al die klere uit word die pakkie Gunston met groot moeite gediep. Dit moet mos darem droogbly sien.
Dan, terwyl die eerste rookwolkies agter ons koppe op dwarrel is dit tyd om die innerlike te verwarm. Hiervoor is voorsiening gemaak in die vorm van ‘n bottle Oubies (Old Brown Sjerrie. Een per man.)
So bou ons geduld op vir die lang wag.
Ons gesels. Dis snaaks hoe ‘n mens se gesels dwaal langs die viswater en net nooit droogloop nie.
Ons trek daar by die huis weg, maak ‘n draai deur die skool, gooi ‘n wye es daar by die Kollege en soos die Oubies sy werk doen ruk ons die land se politieke probleme weer in lyn. En vir die wis en die onwis los ons sommer ‘n paar van Amerika se probleme ook op.
So tussen die gesels deur gaan daar niks by die aas aan nie. Nou en dan, as jy voel jou harder se gespartel het opgehou, katrol jy maar in en sit ‘n vars en fikse harder aan. Saam met die Oubies raak die voorraad harders ook later min.
Ons stem saam. Hier is vandag nie ‘n kabeljou in die see te vang nie. Daar is nog een harder oor en na hom gaan ons maar oppak en terug kamp toe. Ons het mos darem ‘n stuk steak saamgebring vir ‘n noodgeval.
Die laaste harder is myne. Toe hy nou mooi vas is aan die hoek kyk ek daai bottle oubies van my so en ek besluit ek is nie lus vir daai laaste twee slukke nie.
Toe Wimpie wegkyk maak ek daai harder se bek oop en gooi daar ‘n goeie skoot Oubies in.
En ek plant daai harder.
En ons sit.
En ek besluit om ‘n laaste sigaret te rook voor ons nou by die godsdiens gedeelte van ons gesels uitkom.
Terwyl ek sukkel om daai klam sigaret met die nat aansteker brand te kry, bars dale hel los op my lyn.
Wimpie skrik hom uit se geloof uit in ‘n sondige sekte in en begin sy lyn inkatrol om dit uit die pad uit te kry.
Ek gryp my stok terwyl die sigaret en aansteker in verskillende windrigtings verkas.
Met die vasvat van die stok besef ek hier is iets verkeerd. Ek weet wanneer ek ‘n vis aanhet en ek ken moeilikheid…
En hier is altwee.
Soos ek die lyn see-in volg met die oog sien ek daar waar die aas moet wees is daar net skuim soos daai ding baklei.
Dit ruk en pluk, roei en stoei vir dood. Dan dink ek dis ‘n Haai. Dan voel die weer soos ‘n seekat. En nou en dan verbeel ek my weer dit moet ‘n groot vis wees.
So gaan dit vir omtrent ‘n halfuur aan.
Ek weet later nie of ek nat is van die seesproei of die sweet nie.
Toe, skielik is daai vis se gô pê. Ek katrol in. Dis ‘n mooi kabeljou wat tien minute later veilig langs my op die rots lê.
Ek is nie bietjie trots nie.
Toe ek die hoek uit sy bek wil haal sien ek eers die snaakse verskynsel.
Die vis het nooit die aas in sy mond gehad nie.
Nee.
Daai harder het die kabeljou om die nek beet en klou vir lewe en dood. Jy kan as’t ware sê die aas het die vis gevang, en nie ek nie.
Die enigste manier wat ek daai harder van die kabeljou af kon kry was om die laaste van my Oubies in sy keel af te gooi.
Eers toe was hy tevrede om te laat gaan.
Ek het die hoek versigtig uit die klein vissie se lyf gehaal en hom sy vryheid gegee.
Ek hoop nie sy hoof het hom te veel moeilikheid gegee omdat hy dronk by die skool aangekom het nie.