Ek hou my nie op met mense wat laag en gemeen of alewig katterig is nie. Hulle is nie deel van my kringetjie nie. Ek
vertrou dus dat die met wie ek wel in verbinding is, nie opsetlik iets sal sê of doen wat my sal benadeel nie. Wat ek sê is dat wanneer mense vir mekaar omgee, dit maar moeilik sal wees om op hul tone te trap.
In ons vriende- en familiekring het ons 'n kostelike uitdrukking:
Hoe bedoel mevrou dan nou? (Dit rym ook nog.
)
Sou ek enigsins ongemaklik voel met dit wat iemand sê, sal ek bogenoemde uitdrukking gebruik sodat daardie persoon 'n geleentheid het om hom/haar duidelik te maak. Ek sal nie sommer net aanneem dat dit wat ek gehoor of gelees het sleg bedoel is nie. Ons almal is soms in 'n situasie waar ons deur moeilike tye gaan en dan lees of hoor ons "negatief" omdat ons so voel, of dit wat ons sê of skryf kom negatief oor, maar dit was nie die bedoeling nie.
Bly dan asseblief ook by die onderwerp. As jy my daarop wys dat ek 'n woord verkeerd gespel of in die verkeerde konteks gebruik het, dan het jy my nie aangeval en "stupid" verklaar nie. Die bedoeling is om my te help om te verbeter. As my toon dan in die pad kom, is dit omdat my toon op die verkeerde plek was.
My leuse is ook om iemand die geleentheid te gee om vir my te wys dat hy betroubaar is voordat ek hom onder die groep van "onbetroubares" sorteer.
Daar is nie 'n manier dat ek met iemand lelik sal wees nie, ek vat liewers my baadjie en loop sonder om 'n woord te sê.