Author Topic: Tipografiese wit (een van die digter se slypstene)  (Read 17007 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Tipografiese wit (een van die digter se slypstene)
« on: July 28, 2011, 11:49:25 PM »
Die "Caesura-tegniek" / "Tipografiese wit", kan ingespan word vir daardie tikkie 'ritmiese zing' tussen die lyne.
 
Soos met gewone spreektaal, laat ons die leser hier rus tussen woorde met die gebruik van 'n dig-element,  meestal sonder die gebruik van leestekens.
 
Gewoonlik word die Caesura aangedui met '||' om gedagtes op te breek:
 
"To err is human; || to forgive, divine." by Alexander Pope
 
Hierdie tegniek kan ook op 'n paar ander maniere toegepas word om ritme oor te dra aan jou gehoor. Met of sonder leestekens - deur die gebruik van 'spasies' in die plek van '||'
 
T.T Cloete het hierdie kreatiewe tegniek amper as sy handtekening ingespan. Gaan lees gerus sy 'Leopold', en uit die bundel 'Jukstaposisie' is “Slaan toe” en “Die afspraak” ook pragtige voorbeelde van die gebruik van wit spasies. Waar woorde sodoende kans kry om in te sink by die leser/gehoor.
 
Ek gaan versreëls uit Cloete se 'Slaan toe' (slegs as voorbeelde vir opvoedkundige gebruik), plaas waar hy sy sin heel in die begin, (dus 'n derde van die reël) opbreek:  het hy           Ronsard verheerlik in sy vers
 


Die volgende metode is waar die reël feitlik in die middel verbreek word:
voor ou huise          die verkeer
 
Hier is 'n voorbeeld waar die sin aan die einde 'n rusplek kry tussen die laaste woorde:
bewegende mense         strome
 
En dan is daar ook die toepas van wit spasies wat Cloete op verskeie plekke in een reël gebruik:
water        ploeë        ou bome
 
Breytenbach het in "(B)ekommernis" hierdie verskynsel baie opvallend toegepas in sy slotreël met groot wit spasies tussen hierdie drie woorde:
"amen       klokkespel        bekommernis"
 
Ek haal graag aan uit 'n gedeelte van Zandra Bezuidenhout se artikel (Afrikaans in Europa):
 
"Die betekenis van ‘n gedig lê immers nie net in sy woorde nie, maar veral ook in die manier waarop die woorde aangebied word.
 
Die gebruik van kommas, kommapunte of punte, asook van strofes, reëlbreuke of wit spasies van enige aard, is deel van die digter se arsenaal waarmee die leser gemanipuleer word om saam te beleef.
 
Doelbewus moedswillig en afwykend dus, maar dit is die digter se prerogatief; dis die spel wat hy of sy speel, en waartoe die leser uitgenooi word!"
   

Ek het toeka se woorde gebruik om hierdie geselsverse saam te stel waar die tegniek van tipografiese 'witspasies' toegepas word in die laaste reëls van die 1ste, 3de en 6de verse.
 
Vanmelewe ...
 
Sawens om die skoongeskropte kombuistafel,
sit die kjenners nes hoenders  op stellasies.
Pagoed het stil verdwyn met die draadloos;
hy gaan 'n wyle skuinslê, magoed sal omsien
na huis en haard     opgetooi      met oulap se rooi.
 
Die gedurige aanmaan en gestaan agter klôgoed
nes 'n grêmmefone wat vashaak in die agtergrond:
"Span daai harregat klapperdoppe ín vir 'n slag!
Tiekies en pennies, sjielings en halfkrone, dié
groei nie aan bome nie. Julle moet geleerd kom!"
 
Ons doet so voort Moeder! Ses griffels krap oor leie.
Streepsuiker is jou voorland sou jy dink aan slaplê!
Vandeesjaar is Ouboet se laaste boeksakdra;
sy skaapogies en gesoek na perde en osse,
die is púre verniet              aanskomende jaar kom hy boer.
 
Die gôwerment het brieke aangedraai met die aalmoese,    
dis glo 'n bielie van 'n saak; hiér te kort en dáár te lank.
Ieder en elk - Gatjieponners, Hervormes en Doppers,
die is nou aan't swoeg en sweet vir elke mudsak koring
soos die Grootboek beveel om jou hand aan die ploeg te slaan.
 
Van gunste en gawes die is daar geen sprake meer van nie!
Vir elke sjieling of pond sal jy kromstaan of sekel swaai,
prosedeer gaan vir jou nie 'n tiekie ekstra in die sak bring nie.
Elke man vir homself. Ou Sekelstert sal sorre vir die res;
dít is die wet van Transvaal my geliefde ou swaer.
 
Voordag met die haan se kraai, trek jy suutjies
die warm flênnie oor jou blaaie en stook die koue vuur.
Skouer aan die wiel; baie myle lê tussen saai en oes.
Dank die Liewe Vader, voor jouse twak staan en nat worre
en jy Bokveld toe verhuis       sesvoet      ônner die grond!

© Meraai vannie baai

« Last Edit: March 27, 2013, 12:56:59 AM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Tipografiese wit (een van die digter se slypstene)
« Reply #1 on: July 28, 2011, 11:51:47 PM »
Wanneer ons 'n gekonstruktueerde gedig skep, speel tipografiese wit 'n baie belangrike rol. Hier is 'n voorbeeld uit ons album:



Variasies vir oogplesier:

Ek skuil agter skimmel gedagtes
            'n valse geborgenheid verduister
            die teisterende beelde van gister
wat geil rys uit gekisde verledes

© Meraai vannie baai

******

Hier het ek spasies gebruik om woorde te manipuleer vir die gekonstruktueerde dubbeldoor (vertaalde verse in een gedig) Let op hoe die twee sleutelwoorde in die titel ondermekaar vertoon.

*I & Ek

Nana,  today I wanted to write you a poem
  but all that  I can think of now is
   how much  I love you!
 
Ouma vandag wou ek vir jou 'n gedig skryf
         maar al wat ek nou aan kan dink is
         hoe baie lief ek Ouma het!

*gediggie se woorde was geskep deur ons kaboutertjie 'n paar jaar gelede toe hy op 8 jaar oud, graag Afrikaans wou leer praat om die 'meisies' te beindruk.

******

Nog 'n voorbeeld waar ons visuele plesier en afwisseling kan verskaf in ons vertaalde verse:

  Soms, maak ons deure oop en toe in ons haas
        deur die lewe se gange en ons eie woorde
                - laat diep wonde en merke agter -
 
Sometimes, hastily we open and close the doors
         through life's hallways and our own words
             -  left deep wounds and scars behind -

                    © Meraai vannie baai
« Last Edit: July 29, 2011, 03:39:12 AM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Tipografiese wit (een van die digter se slypstene)
« Reply #2 on: July 28, 2011, 11:55:42 PM »
En hier is adéle se pragtige voorbeeld waar sy hierdie slypsteentjie gebruik het :notworthy:

Stortreën     spoel     leegtes
tussen hemel     aarde     helderskoon
donker dreunings     rammel saam
met elk bliksemstraal neer;
in die veld     kruip wesens
diep     ver     weg,
riviere     oorstroom
honderde meters ver
en net soms     kleur die uitspansel
agter die son     se warmte deur.

© adéle

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10700
  • Gender: Female
Re: Tipografiese wit (een van die digter se slypstene)
« Reply #3 on: March 11, 2013, 11:32:54 AM »
Ag, ek het nou weer baie lekker gekuier hier tussen die lyne en die tipografiese wit! Raaitjie, hierdie moet boek toe asseblief. 
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Tipografiese wit (een van die digter se slypstene)
« Reply #4 on: March 12, 2013, 05:03:44 AM »
Ek sal deur die voorbeelde wat ons het gaan, en dit vir jou gaan plaas matertjie. Ek weet jy het hierdie styl vervolmaak!!!  :hello2: :notworthy: :icon_salut:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10700
  • Gender: Female
Re: Tipografiese wit (een van die digter se slypstene)
« Reply #5 on: March 12, 2013, 08:35:09 AM »
Ek lief die tipografiese wit en sal dit sommer orals gebruik waar ek kan.  Almal sal net nie weet hoekom laat die ou ding so baie spasies nie, maar terwyl hulle daaroor top sal ek my doel bereik!   :icon_biggrin:
Om te weet is om te verstaan.