Ons het baie verloor...
Eers AB en sy gesin toe hul huis en 'home' met byna alles afbrand. Toe Els wat haar werk verloor en die rimpeleffek wat die gebeurtenis het. Nou PM en Hannes wat ook hul huis en 'home' byna verloor het deur stormwaters en al die shleb daaraan verbonde.
Die emosionele aspekte aan 'verloor' is baie en is groot. En wanneer dit jou huis is, dink ek, is dit net nog meer traumaties. Jou goed waaraan jy jare bymekaar gemaak het, met soveel liefde aangeskaf het, ou goed, hartsgoed... Goed wat niks en niemand kan vervang nie, is myns insiens wat jou hart uitruk, jou bors oopskeur. Hoe vervang jy die foto's van Ouma en Oupa, van jou kinders, jou troue? Niks sal ooit daardie oeroue sout-en-peperpotjies wat Oumagrootjie nog....
Ekself is verbouereerd, angstig, kwaad, in die duister oor wat met my gebeur het.
Ek het al drie keer dieselfde droom gehad...
Ek moet dalk net agtergrond gee: Ek het jare geneem om na 'n egskeiding, waar ek met byna niks uitstap, weer amper onafhanklik was. Wonderlike werk wat ook my 'home' word, waar ek veilig voel en daagliks met my kollega's, wat ook my vriende word, kon meng. My salaris was goed. Ek kon vir die eerste keer in baie jare na myself omsien sonder die hulp van my kind. Ons begin praat oor saam huiskoop, motor vir Ma...
My droom nou: Onbekende mense met dreigende houdings wat my tot op die rand van 'n geweldige direkte afgrond laat retireer. Dis geweldig hoog en die rotse het geen uitsteekpunte waaraan ek kan vashou of waarop ek kan trap nie. Ek gaan val. En onder... bruisende, woelende donker waters.
Ek sal weer onder moet begin, in die woeste, malende dieptes waar ek gaan struggle to survive.
Het ek die krag en uithouvermoe?
My gebede is by julle, AB en PM en julle gades en gesinne. Sterkte.