TROU
Ek hou van ‘n man wat sy man kan staan;
Ek hou van ‘n arm wat ‘n slag kan slaan;
‘n oog wat nie wyk,
wat ‘n bars kan kyk;
en ‘n wil wat so vas soos ‘n klipsteen staan –
vas soos ‘n berg van grou graniet
op vaderlandsgrond, sy hartsgebied,
aan haar getrou
soos aan kind en vrou,
en wat in haar ere ook syne siet.
Ek hou van ‘n man wat sy moeder eer
In die taal uit haar vrome mond geleer,
En die bastergeslag
In sy siel verag,
Wat, haar verstotend, hulself kleineer.
Die oog wil ek sien wat ‘n traan nog ween
Vir ‘n heldegeslag, in hul rus daarheen,
Maar ‘n blits van trou
In die traan van rou,
Wat aan liefde weer gee wat haar bron is ontleen.
Vir my die Afrikaner van durf en daad,
Wat Mammons eer en loon versmaad,
Sy hoof en sy hand vir sy volk en sy land
En ‘n trap van sy voet vir laag verraad!
O, ek hou van ‘n man wat sy man kan staan:
Ek hou van ‘n daad wat soos donder slaan;
‘n oog wat nie wyk, wat ‘n bars kan kyk;
en ‘n wil wat so vas soos ‘n klipsteen staan!
Jan F.E. Celliers
(1865-1940)