Versigtig, met haar reeds bloeiende vinger, tel sy die laaste paar brokstukkies glas op. Die vloer is taai van die bietjie coke wat agtergebly het voordat die tafeltjie, onder haar val, verspot-skeef eenkant toe geknak het. Haar gedagtes kyk deur die oop glasdeur na die volmaanlig op die pragtige grasperk en vaagweg wonder sy wanneer die son en maan plekke geruil het.
Ansuné voel weer die brandpyn in haar sy en lig haar sybloes op. Haar asem snak droog deur haar keel as sy die taai bloed probeer afvee. Dit voel asof ’n krieketbal uit ’n vinnige boulerhand haar getref het. Soos sy skuinser draai, kom haar spieëlbeeld se rug in haar prentjie in. Potblou, amper swart, strek die soveelste vlekke van onder haar blad af tot op haar heup. Vingerlank gaap die wond oor haar onderste ribbes oop en begin weer bloei.
Stadig suig sy kalmte in en klim in die stort. Eers hou sy die waterstrale lig en louwarm, laat dit van oor haar skouers afloop om die taai sag te maak. Dan draai sy die krane verder oop en gooi savlon oor die sny; kreun wanneer die brandpyn intens tot in haar maag draai. Sy was haar sy met watte en laat val die bondels net daar in die hoek. Haar getroue huishulp-vriendin van baie jare al, sal dit more kom weggooi en alle tekens verwyder. Trane kwispel aan haar wimpers en sy word sommer koud onder die warm water as sy dink dat sy dalk eendag sonder Elly sal moet oorleef.
In haar kamer pleister sy die sny so netjies as wat sy kan, oor ’n gasie vol salf toe. Sy besef baie goed daar is ’n paar steke nodig, maar die omgee teen breë littekens het haar verlaat ... ’n paar jaar gelede al. Buitendien kan sy onmoontlik nou ongevalle toe ry. Dirk se oorkook-woede indien sy dit ooit weer waag, wil sy nooit weer beleef nie. Tydens daardie week in die hospitaal het sy besef niemand glo haar verduidelikings oor die trapleertjie wat mankoliekig onder haar gekantel het nie. Nie nadat sy dan uit die oeroue appelkoosboom sou geval het nie.
Wanneer haar oë saam met haar moegheid die stryd teen klaasvakie gewonne gee, oorvloei ’n soveelste dankbaarheid haar dat hulle nie kinders het nie. Wat sou van hulle geword het in hierdie lewe van sogenaamde onthale vir kastige kliënte en sy personeel? Vroue kyk op na hom, verlam deur sy glimlag wat ook uit sy lyf uitstraal. Hulle swymel elke keer as sy groot hande sag oor haar tenger skouers vou wanneer hy haar bedank vir nog ’n volmaakte ete. Mans bewonder sy geniale sukses en glo agter elke suksesvolle man staan ’n perfekte vrou; die volmaakte paartjie.
Maar niemand het nog ooit kennis gemaak met die monster wat laataand uit die laaste leë drankbottel klim nie. Daardie onmenslike grynslag wat haar tart oor sy dan uitlokkend sou aanlê by al wat man is; wat haar uiteindelik aanval omdat ’n vrou wat so kan onthaal om ander te beindruk, dit verdien om ingebreek te word...
Die son het al ver op sy daaglikse wandeling gevorder toe Elly se hand sag aan haar skouer raak. Haar oë verklap egter haar haat en woede en Ansuné weet nie hoe sy haar vandag gaan paai nie. Terwyl sy die jogurt eet, juig haar hart omdat Dirk twee dae uitstedig is. Sy sluk die pynpille saam met die tee af en vou haar hande dankbaar om die bruin vrou se vingers. Trane vul weer haar oë.
Dan lui die deurklokkie. Malan Steyn is nie net hulle predikant nie, maar ook ’n huisvriend wat gereeld kom dankie sê vir Dirk se groot bydrae. Sy verpletterende nuus laat haar sprakeloos en Malan wil glo die fyn vroutjie gaan nie die skok oorleef nie. Die dubbelgrootte swaar vragmotor het die luukse motor van Dirk onherkenbaar opgefrommel.
Mense kom en gaan uur na uur. Sommige ontroosbaar, maar tussen hulle vind Ansuné dat daar mense is wat haar meer opreg ondersteun as ander. Sy wonder of hulle van dié is waarop Dirk wreed en doelgerig getrap het in sy strewe om bo uit te kom. Sou hulle weet hoekom haar oë droog bly? Dat dit nie van skok is nie?
Die dag na die begrafnis staan Elly voor haar buite-woonstelletjie se toilet met ’n klein sakkie in haar hand. Stadig skud sy die bruin poeier in die water en spoel dan die toilet. Sy laat die bak vol loop en spoel dit weer, drie-vier keer namekaar. Dan spoel sy die sakkie by die wasbak uit tot alle moontlike tekens van die gif weggewas is en gooi dit weg. Sy het dit nou nie meer nodig nie, maar na haar lang soeke na die perfekte plan wat geen vinger na haar sou kon wys nie, is sy spyt dat die noodlot haar voorgespring het.