PM dit werk so - Elke oggend om 6am ons tyd, "start" ons ons onderskeie skypeskoetertjies (ons naam vir skype) Dan kuier ons vakansietye so lank as 'n uur of langer en skooltye 'n halfuur of tot ek moet skooltoe ry. Hie hie hie ek was al menige oggend amper amper laat vir skool. Ons gebruik die webcam bitter bitter selde so ons klets deur te skryf. En ons klets oor alles en nog wat. Ek is nie seker van die aanvangsdatum nie, maar dit was iewers in 2009. Dan stuur ons nog so tussendeur vir mekaar sms'e as ons iets dringends wil sê of spesiale gelukwensings of so iets wil stuur en natuurlik is daar nog e-pos (poskoetsies) ook vir foto's en sulke goed. Maak nie saak hoe laat ek in die aande in die bed kom nie en of dit vakansie is of nie, ek stel my wekker sodat ek nie ons kuier mis nie. Net Saterdae en Sondae neem ons 'n blaaskans om geselsmateriaal bymekaar te maak.
Ons stomklets dat die rook trek en baie dikwels maak ons mekaar se sinne klaar of skryf ons presies dieselfde woorde gelykertyd neer. Dan sê ons gelyk: SNAP! hahahaha. Ons is die gruwelike tweeling.