Op my lydensweg
het ek vandag gestap
kop omhoog
selfvoldaan hooghartig
met kosmosvelde rondom my voete
ongeërg
oorhaastig…
gemaklik in my ego
vol selfvoldane eie-oordeel
Gou het die pad versteil
hoër-op aan my kuite gevreet
ek kon skaars sien
hoe geknakte stingels
hulself uit die son uit vergeet
Later elke tree geworstel
verstik in die stof van my gewete
gestruikel geval
oor die rotse van selfverwyt
my vingers gebreek
In ondraaglike hitte
het beskuldigings
korrupsie begeertes
oneer losbandige dae
vasgegésel in my siel
oopgebars
my in stukke gemérgel
Laatmiddag geswik
sononder oor die eindstreep gekruip
gebroke my voorkop
in die traan-modder wou afkoel
en vir laas wanhopig
na die droë horison roep
Toe drie kruispale verrys
die kimlyn verbreek
’n Stem uit die woestyn
soos ’n koelte oor my waai
’hier het Ek alles
vir jou gedra’
Ek waggel orent
tot my knieë weer knak
berou drup oor my hande
maar vreugde droog my wange
dankbaar lig my hande vanself
onverganklike
vergifnis
het al die pad vir my voltooi!