Hoekom 'n laslappiejas weef uit ander se skeppings, wonder jy seker nou? Watter bevrediging kan voortspruit wanneer ons tyd steel om deur 'n ander persoon se abc's te grawe - opsoek na die 'versteekte beeld'?
Hier is Elmarie se kommentaar op die Cento wat ek uit haar werk saamgestel het:
Ek het 'n wonderlike ervaring gehad. Ek kon in iemand anders se kop inklim en my deur haar oë sien. Deur die nag het die eposse uit haar pen ingerol, een na die ander, en soos ek dit vanoggend lees, op 'n ontdekkingstog deur my eie kop gevat. Ek verwys hier na Meraai vd Baai se gebruik van my woorde om 'n CENTO bymekaar te stel.
Sjoe. Ek het die laaste paar maande soos 'n maniak geskryf. My gevoelens het deur my vingers gevloei. Dit was my terapie, my "coping mechanism". Dit was my liefde vir 'n man so ver van my af en 'n poging om desperaat te kommunikeer met hom, om hom 'n kykie in my siel te gee. Dit was passie en pyn, hartseer en ekstase. En Meraai het my op 'n tog deur hierdie gevoelsinventaris geneem - en elke lyntjie uit elke gedig wat sy gekies het, het die tyd vir 'n paar oomblikke laat stilstaan.
Dankie Meraai dat ek myself deur jou oë kon sien. Dankie ook dat jy my toergids deur my gedigteland was en vir my al die hoogtepunte wat ek nie raakgesien het nie kon wys. Dankie dat jy my 'n anatomieles van die liefde gegee het.
Woordkombers: Laslappie Cento saamgestel uit Elmarie Westerink se gedigte.
Die knus woordkombers wat jy vanaand met soveel teerheid oor my hart gegooi het
as jy so saggies vir my fluister en sonder ophou na my luister - maak jy my heel met
daardie liefdesgom wat dit wat stukkend is, weer bymekaar laat kom...
... as jy glimlag met jou stem breek my hart uit ysterboeie
... om daar buite in die sonskyn rond te dans
... jy is die vars nuwe bloed wat deur my are bruis
... jy is die tronkbewaarder wat my siel se sel oopgesluit het
... jy is my veiligheidsnet - jy sal my vang
... jy sal my nie laat struikel nie want ek het jou siel gesien
... ons langafstand liefde is ‘n naelstring van hoop
... dis ‘n kleinnood, ‘n vreugde wat geen geld kan koop
... vir my, is jou stem die son die lig in my hemelruim
... dit is ‘n warm wolkombers en vul die seile van jou lewensboot
... jy het my jou sterre gewys, met ‘n lig wat van binne in jou grysgroen oë skyn
... jou warm liefde laat die vog in my are so uit elke porie bruis
... en in fyn straaltjies tot ‘n magtige gevoelsvloed oor my lyf vloei
... wanneer jy met my woordliefde maak en my tot sielsvervulling bring
... word ek volledig vrou terwyl my liggaam wag op jou
... waar kom die koue wind vandaan?
.... of is dit ‘n dorre droogte?
... dalk is dit ‘n vakuum wat woorde ingesluk het?
... ek wag sonder asem sonder vorm
… my hart is onbeskerm teen die koue
... wagtend smagtend
.... die wande van ons harte is gemaak van die dunste glas
... ons is so breekbaar dat ‘n harde ysterwoord ons in stukke laat spat
... rasperkeel wat woorde in dun repies kerf
... harte breek nie oor die simpel sêgoed wat jou inmekaar laat krimp nie
... dit breek nie oor hierdie woorde kyke stilte van jou af nie
.... jou teer woorde wat my so hoog laat sweef het is stil en ek val
… struikel oor my pyn
... ek hoor die eggo: "Skatjie, liefling, poplap bokkie, baby, sonskynvrou woestynmerrie vrou-van-my-hart"
.. woorde bly vormlose klei wat druk op jou bors met ‘n vasgevriesde hart
... woorde alles maar net woorde
… alfabetsoldate met abc26 gewere
... vurige tonge ets al dieper en dieper hul boodskap van verraad of vernedering op jou siel
... en grysvaal as bedek die kleur van jou hart
... jou tong is kladpapier … kurkdroog
... en ek soek verward in die wit mistigheid van my rekenaarskerm
... ons woordedans wat ‘n tango was, ‘n pas de deux, is nou klanke deur ‘n kabel ver weg - stil met 'n klik
Ek vryf en vryf my arms want ek het nie meer ‘n woordkombers nie.
© Elmarie Westerink (saamgestel deur Meraai vannie baai)