'n Toutologie (afkomstig van die Griekse woord ταυτολογία, d.w.s. tauto logos, wat dieselde woord beteken) of stapelvorm is die benadrukking van 'n woord met 'n ander woord waarvan die betekenis so goed as dieselde is. Anders gestel is dit die opeenstapeling van woorde met dieselde betekenis, wat gevolglik oorbodige herhaling behels.
Toutologie kom meer dikwels voor as 'n taalfout as 'n stylfiguur, maar in eersgenoemde geval is daar sprake van versteende gebruik. Baie vaste uitdrukkings is dan ook toutologieë. Ook kan 'n toutologie soms meewerk om 'n gevoel te versterk. Dit word nie as foutief beskou wanneer dit só aangewend word nie.
By 'n pleonasme is die twee woorde nie sinonieme nie, maar word die betekenis van die een woord by die ander ingesluit, byvoorbeeld met "dood verdrink".
Korrekte toutologie
Min of meer versteende (korrekte) toutologieë is onder meer:
graftombe
brokstuk
gratis en vir niks
een en dieselfde
leuens en bedrog
lis en bedrog
geheel en al
vas en seker
gewis en waaragtig
nooit of te nimmer
vir ewig en altyd
oor en uit
uitklaar
Foutiewe toutologie
Voorbeelde van (steeds) onversteende uitdrukkings, en daarom aanduibaar as foutief, sou die volgende insluit:
kabeltou
netjies en versorg
alreeds
nooit niks
vuil en smerig
bly en verheug
vrolik en bly
identies dieselfde
eensaam en alleen
maar en egter (Byvoorbeeld: "...maar ons merk egter niks op nie.")
want en immers (Byvoorbeeld: "Ek neem 'n drankie, want ek is immers dors.")