‘n Bekende man het eenkeer gesê: “Somtyds sit ek so en dink. Somtyds sit ek net so. Meeste van die tyd sit ek net so.”
Dit was ‘n warm somerdag. Moeilik om te konsentreer.
Net na tweede pouse word ons al swetende in die wiskunde klas ingetrop deur ‘n oorywerige wiskundeonderwyser wat net uit die lugverkoelde personeelkamer ontsnap het.
“Middag Matrieks. Sit asseblief.”
Hier in metriek het ‘n mens nou eintlik al die ou skuins skoolbankies met die outydse inkpotgaatjie so ‘n bietjie verby gegroei. Sit is dus ‘n prosessie op sy eie. Dus. Magies in, heupies buig. Parkeer jou boude op die klein sitplankie deur na die middel in te skuif. Nou haal ons boeke uit.
Toe almal stil sit raak daai onderwyser in vervoering oor sy vak, ruk daar ‘n stuk wit bordkryt uit en begin skrywe op daai swartbord dat die wit stof soos weskus mis op hom toesak. So tussenin praat hy aanmekaar. Vir die volgende halfuur probeer hy sy beste om sin te maak uit cos en tan. Deel die oorstaande sy met die skuins sy om die hoek te kry waarteen die cheetahs die Stormers gaan aanval ens.
Intussen sit ons maar so.
Agter, teen die muur het Wilhelm afgesak in sy bank. Soveel so dat dit lyk of hy op sy derde nekwerwel sit. Net sy kop en skouers steek bo die bankie uit. Sy oe staar na ‘n onsigbare punt teen die dak wat net hy kan sien.
Wilhelm is nie ‘n roker nie maar tussen sy wys- en middelvinger knyp hy behendig ‘n potlood vas. So elke nou en dan trek hy ‘n diep skyf aan die potlood en kap dan rustig die as af in die inkpotgaatjie wat blykbaar ook as asbak dien. Denkbeeldige rook sirkels word in die rigting van die onsigbare punt teen die dak gemik.
Moontlike eksamenvraag. As die houtkapper twintig meter van die boom staan en teen ‘n hoek van 30 grade na die boom se top opkyk, hoe oud is die bokkie wat agter die boom staan.
Meneer se gesig verskyn uit die wit stofwolk wat voor die bord hang. Sy gesig is wit.
Hy bemerk die toestand waarin Wilhelm homself bevind. Sy gesig word nog ‘n skakering witter maar sonder om op te hou praat begin hy Wilhelm sin vir sin bekruip soos ‘n cheetah.
Wilhelm kyk nog onbewus na die dak.
Cheetah se kind beweeg al pratende tussen die banke in.
Wilhelm staar nog onbewus na die dak.
Die cheetah stop langs Wilhelm.
Wilhelm bekyk nog die dak.
Skielik slaan die cheetah toe: “En wat kan ons vandag vir jou doen, meneeeeeerrrr!” Kap die kloue diep in Wilhelm se bewussyn in.
Vir ‘n oomblik rek Wilhelm se oe toe hy besef hy is nou binne in die brommer bollie.
Dan ontspan hy.
Stadig, nadenkend, bring hy die potlood na sy mond.
Hy vat ‘n lang teug.
Dan beweeg die potlood na die inkpotgaatjie en die “as” word met mening afgeslaan. Wilhelm kyk stadig op na die meneer se gesig wat nou begin kleur kry.
“Maak dit maar ‘n dubbel. En moet asseblief nie die ys en soda vergeet nie.”
Somtyds stik ek so. Somtyds lag ek so. Meeste van die tyd stik ek so.