Die sisalstammetjie, met net ‘n beduidenis van ‘n ronde gaatjie, wat ek by die plantpark gekoop het vir die houtkappers om in nes te maak, het vir my al te hard gelyk vir so ‘n klein bekkie om deur te breek. Toe vat ek maar ‘n hamer en ‘n beitel en ek kap en kap en kap om die “prop” uit te kry. Dit het maar moeilik gegaan.
Na ‘n gestryery of die opening nou aan die bo-kant of aan die onderkant moet wees, is die nes mooi teen die stam van ‘n palmboom vasgemaak, natuurlik presies daar waar ek dit elke dag kon dophou van agter my rekenaar, met die opening aan die bo-kant soos manlief gesê het.
Die lang wag het begin. Dit was toe nie so lank nie of ‘n paar bonthoutkappers kom klop aan vir losies. Dit het hom so drie dae geneem om die wit dons, met daai klein bekkie, uitgehol te kry. Hy was besig, dit het soos sneeu gelyk onder op die grond, onder die nes.
Toe die twee gelukkig was met die eindresultaat het hulle begin bou aan die nasie.
Vyftien dae later was daar ‘n groot opgewondenheid toe ons sien hoe flink die kossies nes toe gedra word.
Sesuur een oggend hoor ek ‘n groot lawaai buite. Voëls fladder en raas vir ‘n vale. Twee groot grysneushoringvoëls het die nes besoek en die buurt se voëls is hoorbaar baie omgekrap. Toe is dit stil en die nes verlate.
Die twee het dikwels terug gekom om te kyk of daar nog iets was om te aas.
Vyf dae gelede sien ek twee rooikophoutkappers al om die nes draai. Hulle is kort-kort om die nes. Ek wou dit na die tweede dag net afmaak as “goggatjies-eet”, toe ek tot my verbasing sien dat die mannetjie, die donkerder een van die twee, probeer om ‘n nuwe gat te maak aan die onderkant van die nes. (Jy sien, dit is waar die gat eintlik moes gewees het!)
“Jy kan maar vergeet ou maatjie, daai stam is so hard soos sement! Dit sit nie in jou broek nie, ek bedoel in jou bek nie!”
Hy het die heeldag, kort-kort, kom pik-pik. Die wyfie het bo-op die nes gesit en die petalje gade geslaan.
Gister, tot my verbasing, sien ek dat hy al sy hele bek in die gat het en vanoggend kon hy al begin om die wit dons uit te grou.
Mevrou het ook nou begin help. Ek het eers gedink sy doen maar net inspeksie, maar nee, sy grou dat die dons spat! Hy is seker te stadig na haar sin. Hê-hê!
Haar hele bolyfie gaan al in die nes in. Wow julle twee, dit wil gedoen word!
Woensdag ry ons Botswana toe om te gaan verblyf soek vir die volgende maand. Ai, kon ek nie maar my toerskoene ophang nie?
Roling stones mis so baie!