PM, jy moes die opheldering van hul gesigte sien toe ek hul se daar is 'n sak geskenkies vir die kinders.
(Hulle maak ook ons kantore skoon en direk daarna my plek. So ek sien hulle altyd daar en gee dan my sleutel af).
Jy weet, ek doen sooo min vir ander. En as ek net 'n klein bietjie geld spandeer het om kindertjies vir 'n uur of twee gelukkig te maak, dan is ek ook gelukkig daardeur. Ek wou nie geld gee sodat die ouers iets moet koop nie, want die nood vir kos is so groot, dat die kinders nie geskenkies sien hierdie tyd van die jaar nie. Mens is ook nie seker of die geld wel vir kos gebruik word nie.
Daar is 'n ouetehuis net langs my woonstel-kompleks. Dalk stap ek Kersdag om en gaan gesels met iemand wat smag na geselskap en wie se kinders hulle vergeet het.
Die vorige aand sal die familie van my seun se aanstaande skoonouers 'n ete gee vir ons almal. Die menu is om van te ....... Soveel van vleise en geregte en poedings is om van te gil. Mense gaan dood sonder kos en ons gaan ons ooreet.
Waarom al die oorvloed?
Ons gaan die volgende dag, Kersdag, piekniek hou langs die swembad. Weereens 'n ge-eet vir die vale, maar ek het klaar besluit... ek is afwesig. Ek wil of rustig my roes afslaap of vir 'n bejaarde gaan kuier.