Om ‘n Ma te wees..
Ná PM se mooi woorde en bedanking aan haar moeder, dink ek aan my gesprek nou die oggend met my kind. Dit is net ons twee. Daar is nie meer ‘n pa nie. My enigste kind se lewe is ‘n warboel op hierdie tyd. ‘n Hele 103 van die werkers by sy werkplek word afgelê en hy is een van hulle. Hy moet ‘n nuwe werk soek en kies tussen moontlike nuwe poste. Ook trou hy oor ‘n paar maande. My kind is gespanne en moeg. Tussen sy ma en sy meisie moet ons ‘n rustige en positiewe atmosfeer skep sodat hy nie moed verloor nie.
Ek kry ek ‘n knop in my keel toe ek daaraan dink dat ek as ma so bevoorreg is om hom by my te kan hê. Ek vertel hom hoe lief ek vir hom is, hoe baie hy vir my beteken, hoe hy altyd die eerste in my lewe sal wees. Selfs a is hy getroud en self ‘n pa, bly hy my kind. Ook praat ek hom moed in en vertel hom dat ‘n nuwe lewe vir hom voorlê, dat hy nuwe horisonne sal oopbreek en nuwe mense sal ontmoet. Sy lewensgrense sal vergroot en met dit kom nuwe uitdagings en groei. Elke gebeurtenis in jou lewe laat jou groei, vergroot die ware JY. Elke situasie neem jou buite jou grense en laat jou groei. Dit neem jou na nuwe plekke, uitdagings, mense. Ek vertel hom dat hy nie moet weerstand bied nie, maar moet vloei saam met wat gebeur. Dit is nie deur sy toedoen dat ‘n maatskappy in die moeilikheid is nie, die hele wêreld is in ‘n resessie gedompel . Hou net moed, alles sal in plek val.
In sy kamer nou die dag het ek ‘n foto van hom en sy pa sien lê. Hy moes dit uit ‘n album gehaal het. Wat sou hy vir sy pa vertel het terwyl hy die foto vasgehou en daarna gekyk het? Sou my kind na hom verlang? Hoe wens ek dat albei sy ouers vir hom beskikbaar kon wees in hierdie tyd.
Maar ons sal ook dít hanteer en heel anderkant uitkom. Ons het immers nog altyd die struikelblokke oorkom tot nou.
My grootste wens en hoop nou, is om sy klein nasaat-bondeltjie te kan vashou en vertroetel… en bederf, want bederf Oumas en Oupas nie hul kleinkinders meer as hul eie nie ?
En wat is beter en groter as wanneer jou kind jou bedank vir sy opvoeding wat jy hom gegee het en dat hy vir jou lief is?.
Moederskap is die grootste voorreg wat ‘n vrou kan hê.
Myne verruil ek vir niks.