Ek is op pad werk toe.
Daar staan/hang sy oor die hek.
Kwaai. Briesend. Haar kykers wyd oop. Die vals wimpers druk gaatjies in haar voorkop.
“Jou kat het weer laasnag my potroast van die tafel af kom vreet.”
“Maar Mevrou…” probeer ek maar sy is klaar op ‘n rol en daai gesplete tongetjie van haar dans die tja-tja oor die teerpad na my toe.
Verstom kyk ek haar maar net aan. Kry nie ‘n woord in nie.
My oë vang haar hare. Madusa deurmekaar skud die goed rond soos haar kop heen en weer wapper van spoegkwaad wees.
Gister se oorlogverf is vol krake en op haar bolip steek die halfgeskeerde snorbaarde kop uit op soek na sonlig. Tussen die kwaai uitspoegsinne suig sy hard na asem deur die swart gate in haar tande.
“Die potroast het R185 by Piet se Slaghuis gekos.” As ek haar nie wil glo nie kan ek vir Jan gaan vra. Hy is die baas en het haar persoonlik self gehelp.
Haar nagjurk hang soos ‘n dubelbedlaken, oor ‘n onopgemaakte enkelbed, om haar en hier en daar vorm nat kolle soos sy die woorde na my kant toe uitspoeg.
Ek raak gehipnotiseer deur die pendulum beweging van haar borshare se vlegsels wat heen en weer voor haar naeltjie verbyswaai.
Ek ruk my oë weg na die rugbysokkies om haar bene. Eers dag ek die goed is omgeslaan, toe besef ek dat dit haar knieë is wat bo-oor hang.
“Ek skiet daai kat van jou vrek as ek hom weer in my erf vang!” Blaas sy eindelik stoom af.
“Jy gaan maar sukkel.” Antwoord ek huiwerig. “Want jy sien, daai kat van my wat gistraand jou duur potroast van die tafel afgevreet het, is verlede week deur die veearts uitgesit omdat hy ongeneesbare kanker gehad het.”