Recent Posts

Pages: 1 2 3 [4] 5 6 ... 10
31
Adéle se plek / rusplek in die kloof
« Last post by adele on May 04, 2022, 02:15:00 PM »
Ek gaan ‘n rusplek soek
‘n plek wat met stilte omhein is
en ‘n kleur van warm vrede gee,
met kleurige serpe van sy
om oor my skouers te hang
wanneer ek ‘n loflied sing

My huis vir die Here
kan enige iewers wees
enige elderse hoekie
waar ek wydheid gaan vind,
‘n gewyde stilte se rus
onder ‘n breë kameeldoringboom

Ek gaan in die kloof af stap
waar gemsbokke laatmiddag skuil
en sonstrale hoekige skadu’s gooi,
stap tot by my stille rusplek
en my vreugde-gebed aan
daardie boom se hoogste tak ophang

©adéle theron
Mei 2022
32
Eenpotgeregte / Eenbakgeregte / Beesstert
« Last post by PM on May 02, 2022, 02:47:34 PM »
Hierdie resep is my resep.  Ek gebruik baie speserye en kruie.  Een beesstert weeg so min of meer 1.5 kilogram.  As ons vier eters is koop ek klein beesskenkeltjies en sny dit op en voeg dit by. 
Die kruie en speserye is plus minus een gelyk teelepel van elk.  Jy kan dit egter aanpas as dit vir jou te veel is.
Dit wat jy nie het nie kan jy uitlaat. 
Daar is drie bestanddele wat ek graag gebruik wanneer ek ‘n potjie maak.  Soja, vissous en oestersous.  Wanneer my potjie gaar is, voeg ek soveel by na smaak.  Proe-proe.
Groente is elke ou se eie keuse.  Ek voeg uie, aartappels, wortels, sampioene, seldery,en robot pepers (dit is so ‘n halwe rooipeper, geelpeper en groenpeper) en chillies soveel as nodig.  Grasuie net voor opdiening bo-oor gestrooi.
 
Speserye en kruie:
Sout en peper na smaak  (Hou in gedagte dat die twee pakkies soppoeier ook sout in het.)
6 naeltjies (cloves)
Smoked paprika
2 bay leaves
Tiemie (Thyme)
Jeera of cumin
Kaneel (half teelepel of ‘n 5 cm stokkie)
5 kardemom sade
2 Staranys (staranice) (Hou dit heel en jy kan dit uithaal as jy wil, voor ete.)
 
Wat jy nog nodig het is:
4 tot 6 koppies beesaftreksel (beef broth) As jy die pot op die vuur maak sal jy seker 6 koppies nodig kry, maar as jy die vleis in die slow cooker maak, behoort 4 koppies genoeg te wees. 
Kwart koppie tomatiepasta
250 ml (1 koppie) rooiwyn.
2 Pakkies bruin soppoeier om die gereg dik te maak.  Indien jy nog verdikker nodig het kan jy ‘n bietjie maizena (cornstarch) in ‘n bietjie water oplos en dit inroer aan die einde van die kookproses. 
 
So maak mens:
Braai die osstert en ander vleis indien jy dit gebruik) bruin in olie, of botter. (Ek gebruik varkvet (lard) of klapperolie (coconut oil.)
Haal die vleis uit die pot en braai die uie .
 Voeg 6 huisies knoffel en plus minus 2 duim (5 cm) gemmer, fyn gekap, by. Jy kan ook 1 teelepel fyn gemmer byvoeg indien jy nie vars gemmer het nie.
Hier kan jy nou die rissies wat jy wil gebruik byvoeg. 
Nou voeg jy die speserye by en braai dit ‘n bietjie, so 2 minute.  Voeg 2 eetlepels sojasous (soy sauce) en
die kwart koppie tamatiepasta by.
Voeg die vleis terug in die pot en roer die beesaftreksel en die wyn by.
Op die vuur behoort dit so drie ure te wees voordat die vleis sag is. Dit moenie van die been afval nie maar dit moet sag wees wanneer jy ‘n vurk daarin steek. 
In ‘n drukkoker behoort dit plus minus ‘n uur te neem.
In die slow cooker kan jy dit oornag stadig laat prut. 
Wanneer die vleis sag is kan jy die groente wat jy graag wil gebruik byvoeg en dit kook totdat dit amper sag is.
Voeg nou die twee pakkies soppoeier by en laat nog 10 minute kook.
Ons maak ‘n potjie pap, of kapokaartappels (mash potatoes) of rys daarby.
33
Adéle se plek / Spinnerakke en stof
« Last post by adele on April 12, 2022, 09:11:17 PM »
Gegroet vriende …

Jare gelede het ‘n kollega ons een oggend vertel hoe haar man die vorige aand gemor het oor spinnerakke in die hoek. Of hul in hul kombuis of tv-kamer of waar ookal gesit het, weet ek nie. Sy het hom toe mooi vertel dat hy moet kies tussen ‘n huis wat silwerskoon is, sonder stof, of vertrekke waar alles mooi weggepak is, want sy kan regtig nie alles elke aand perfek hê nie. Sy werk voldag, soms oortyd; hulle het twee kleuters gehad; sy het geen huishulp gehad nie.

Sy het hom ook daarop gewys dat ‘n ywerige spinnekop ‘n nuwe spinnerak binne ure weer kan spin. Sy antwoord was iets soos: “dan moet die spinnerak nie vol stof wees nie.”

Ek het ‘n paar Bybels op die Bybel-boekrak in ons huis se gang. Verskillende afrikaanse vertalings en ‘n engelse een of twee. En ja, hulle word gereeld afgestof, en gebruik. Soms sommer op die tafel in my hoekie waar die son namiddag inskyn, vir elke dag se Bybelstudie of voorbereiding daarvoor. Hulle is ook almal op internet beskikbaar, op my skoottoppie of my selfoon. Ook die program e-Sword, met al sy verklarings en honderde ander vertalings ook.

Hoeveel van julle gebruik jul Bybel elke dag? Nie net vir ‘n vinnige leesstukkie en gebed nie, maar vir lees, opsoek, verwysings, soeke na vrede en troos in hartseer tye, of lofsange in vreugdetye. Of is jou Bybel vol stof?

Wanneer jy nou uit jou Bybel van papier sit en lees, of van jou selfoon af, hou ‘n pen en boekie byderhand. Griffel ‘n paar gedagtes neer waarna jy later weer kan teruggaan. Herleef weer die emosie wat jy ervaar het. Lees dieselfde verse dan weer, en laat dit dieper in jou hart insink. Leer jouself só om meer daarvan te onthou.

Jesus het daardie Sondag Jerusalem ingery. Leef jou in daardie prentjie in. Gooi nou ook jou palmtak “op die pad” waarop hulle was. Stap dan “agter die donkie aan.” Kyk hoe dwarrel die stof onder jou voete. En onthou hoe stil die pad ‘n paar dae later geword het, want alles en almal het tot stilstand gekom, toe dit in die dagure donker geword het. Dan kan jy met jou hande omhoog, God loof en prys omdat sy Seun die verlatenheid vir ons deurleef het, sodat dit nooit met ons sal gebeur nie. Hou net vas aan Hom.

Vriende, moet nie toelaat dat vuil stowwerige “spinnerakke” verlore oor jou Bybel, of in jou hart gaan lê nie. Stof dit elke dag af, sodat net die blink deeltjies in jou hart en gedagtes kan rondsweef. Hou Jesus se teenwoordigheid lewendig. Lê jou Bybel op ‘n plek neer waar ‘n sonstraal daaroor kan val, dan sal jy sien hoe die stofdeeltjies in die sonstraal blink. Dis asof ‘n engel ‘n kwassie vol blinkertjies daar rondswaai. Vertel iemand daarvan en beleef die lewende Here se teenwoordigheid daarmee saam.

Here, stof die vuil spinnerakke van twyfel in ons af en laat net die blink deeltjies van u teenwoordigheid, u liefde, oor, in en om ons hart en verstand bly sweef.
Amen amen Here.

Vrede en vreugde vir julle.
Groete tot volgende keer. Totsiens.

adéle theron.
34
Digterminologie / Re: Cliché
« Last post by Meraai vannie Baai on April 08, 2022, 02:44:11 AM »
Ek reageer op die epos wat ek so pas ontvang het van PM. Blykbaar was daar navrae oor die skrywer van die aangehaalde weergawe waarmee ek reageer het op PM se plasing.  Die skryfster wil 'n aanhaling uit die artikel gebruik vir 'n redenaarstoespraak en het meer informasie nodig oor die skrywers ens. Ongelukkig werk die skakel nie meer nie. Ek het probeer maar dit werk ook nie vir my nie. Ongelukkig 'n klompie jare gelede geplaas (Julie 2015). As iemand dalk meer inligting oor die skrywer van die artikel het, kan julle PM kontak.

Groete vanuit die land van Bloekoms.
Meraai.
35
Adéle se plek / Oorlog in ons midde
« Last post by adele on March 16, 2022, 03:25:25 PM »

In ons leefjare
storm angs ons tegemoet,
voortdurende oorlog in ons midde
as haat vulkanies uitbars.
Die groot duiwelsaanval
gaan ons vernietig;
in bombardement en rook
kelder ons elke dag weg.
Paaie kraak en mure verbrokkel,
bome ontwortel
en die natuur begin huil.
Engele snik ontsteld.

In sonde ontvang en gebore …
satan gaan nog duisend jaar
voortwoed en in modder ploeter,
ons lewe skeeftrek
en ons mislei,
maar in die middel van haar
gebroke huis,
tussen skerwe hout en glas,
stof Irina die note af
en groet met ‘Etude Op 25 no1’
te vlug na Frédéric Chopin se Pole.

Verderaan in ‘n bomskuiling
gee vioolklank ‘n stukkie hoop:
‘What a moonlit night’ neurie hul saam
terwyl bomme die lugruim verskeur.
En weer vernietig ook ons mekaar
woordwapens spoeg van ons tong
en blitse uit ons oë
oortref ‘n vulkaan se woede.
Kniel neer, o mensdom, buig jul neer
want slegs God se genade
bring vir ons redding en lewe
en ongekende ewige vrede.

©adéle theron

36
Adéle se plek / liefdeskruik
« Last post by adele on March 14, 2022, 08:36:31 PM »
Mag sy vir jou vanaand
’n liefdeskruik gaan haal?
’n Eeue-oue kruik
met ’n kraak langs die
afgeplatte sykant-ronding,
opgetel by ’n onbekende inham
langs die Dooie See

’n Oliekruik gevul
met dowwe herinneringe
uit daardie eeue
waar harte sonder kommer
kon liefhê
en kon omgee,
hunkeringe op papirus kon verewig

Kan jy daardie kruik
vanaand breek,
die laaste druppels oosterse geur
oor haar hare
en skouers drup
en ’n Hooglied tot Gods eer sing
vir haar, deur engele, na jou gebring?

©adéle theron
37
Adéle se plek / Re: soekend na ons verlore, verdwaalde forumwoordeboek
« Last post by adele on March 12, 2022, 01:43:20 PM »
2006/7 tot ongeveer 2020/2022 was die heerlikste skryfjare van my lewe ....  :toothy4: :love7:
38
Adéle se plek / Re: jou se plek
« Last post by PM on February 17, 2022, 11:06:38 AM »
Ek sien die internis die 24ste, maar met my vergrote hart glo ek nie dat ek sommer dieselfde dag kan huistoe gaan nie.  Ek sal die 24ste hoor wat gaan vir wat.  Moet eers x-strale van die  borskas gaan neem. 
Almal sê dat oefening die beste medisyne is. 
39
Vervloeë woordskatte / Re: Boesmanland-leer-jou-gou-opreg-bid
« Last post by adele on February 13, 2022, 07:40:48 PM »
 :love7: :love7:
40
Adéle se plek / Re: jou se plek
« Last post by adele on February 12, 2022, 10:03:34 PM »
Hi, ek weet regtig nie van vervangings in dagklinieke nie. Knie-scope ja. Dis net ondersoek, maar vervangings is baie erg. En sorg en hulp is nodig. Daarna tuis ook, maar dit raak gou maklik.
Raad? Oefen oefen oefen en oefen.....
Pages: 1 2 3 [4] 5 6 ... 10