Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Adéle se plek => Topic started by: adele on March 16, 2022, 03:25:25 PM

Title: Oorlog in ons midde
Post by: adele on March 16, 2022, 03:25:25 PM

In ons leefjare
storm angs ons tegemoet,
voortdurende oorlog in ons midde
as haat vulkanies uitbars.
Die groot duiwelsaanval
gaan ons vernietig;
in bombardement en rook
kelder ons elke dag weg.
Paaie kraak en mure verbrokkel,
bome ontwortel
en die natuur begin huil.
Engele snik ontsteld.

In sonde ontvang en gebore …
satan gaan nog duisend jaar
voortwoed en in modder ploeter,
ons lewe skeeftrek
en ons mislei,
maar in die middel van haar
gebroke huis,
tussen skerwe hout en glas,
stof Irina die note af
en groet met ‘Etude Op 25 no1’
te vlug na Frédéric Chopin se Pole.

Verderaan in ‘n bomskuiling
gee vioolklank ‘n stukkie hoop:
‘What a moonlit night’ neurie hul saam
terwyl bomme die lugruim verskeur.
En weer vernietig ook ons mekaar
woordwapens spoeg van ons tong
en blitse uit ons oë
oortref ‘n vulkaan se woede.
Kniel neer, o mensdom, buig jul neer
want slegs God se genade
bring vir ons redding en lewe
en ongekende ewige vrede.

©adéle theron