Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Adéle se plek => Topic started by: adele on March 14, 2022, 08:36:31 PM

Title: liefdeskruik
Post by: adele on March 14, 2022, 08:36:31 PM
Mag sy vir jou vanaand
’n liefdeskruik gaan haal?
’n Eeue-oue kruik
met ’n kraak langs die
afgeplatte sykant-ronding,
opgetel by ’n onbekende inham
langs die Dooie See

’n Oliekruik gevul
met dowwe herinneringe
uit daardie eeue
waar harte sonder kommer
kon liefhê
en kon omgee,
hunkeringe op papirus kon verewig

Kan jy daardie kruik
vanaand breek,
die laaste druppels oosterse geur
oor haar hare
en skouers drup
en ’n Hooglied tot Gods eer sing
vir haar, deur engele, na jou gebring?

©adéle theron