Die Afrikaanse Forum

Digkuns => Digformules of -strukture => Topic started by: Meraai vannie Baai on October 22, 2021, 04:00:27 AM

Title: Kerkhofpoësie
Post by: Meraai vannie Baai on October 22, 2021, 04:00:27 AM
Kerkhofpoësie word beskou as ’n relatief moderne literêre term en verwant aan 'Elegie' met die verskil dat ons hier nie so seer die afgestorwene se lof besing of betreur nie en ons eie leed verwoord in die rouproses nie. Kristeva meld dat sodra ons openhartig oor taboes kan praat, word letsels genees.

'n Groot gunsteling in hierdie genre is Elisabeth Eybers se grimmige spot met Kerkhofpoësie in “Wespark”. Hier het sy op die toon en met die woordkeuse van ’n verkoopsagent die voordele van ’n woonplek in die bekende Johannesburgse kerkhof opgesom:

Geagte leser, dié geleentheid
bied hom slegs eenkeer in ’n leeftyd:
geen waglys en geen woningnood
al is die aanvraag nog so groot.

U van en volle doopnaam pryk
op die versierde gewel – kyk,
met en kompliment kompleet:
die hele wêreld moet dit weet.

Hier is geen stoomfluit en geen haas;
onder die koelteboom lê klaas
soos waffer skofbaas uitgestrek,
kan selfs die afslaer asem skep.

In hierdie buurt is elke vrou
tevrede, elke man getrou,
het elke kind sy eie sandhoop,
vergeet die huwelikspaar van huurkoop …

https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/elisabeth-eybers-1915-2007/


 

Title: Re: Kerkhofpoësie
Post by: Meraai vannie Baai on October 22, 2021, 04:03:40 AM
Tradisionele kerkhofgedigte word gekenmerk deur:

Begraafplaasbeelde, soos sipresbome en mosbegroeide grafstene;

doodsimboliek, byvoorbeeld rawe en uile;

verwysings na die hiernamaals;

(melo-)dramatiese taal en ’n melancholiese trant;

Natuurbeelde soos ’n huilende wind;  ’n somber atmosfeer;

’n filosofiese mymering oor verganklikheid;

’n betreklik ‘los’ elegiese struktuur van weeklag,

verkwaliking, doodsoorsaak en berusting;

’n begraafplaas tydens skemeraand of die nag;

sentimentaliteit;

en ’n didaktiese, moraliserende boodskap.

Moderner weergawes van kerkhofpoësie bepeins steeds die sterflikheid van die mensdom, maar bevat meestal nie ’n didakties moraliserende boodskap of Gotiese doodsimboliek soos die tradisionele vorm nie.

Verskeie voorbeelde kan gevind word in C. Louis Leipoldt se gedig “Op die kerkhof” uit sy Versamelde gedigte (1980), Totius se “Die wêreld is ons woning nie” uit Passieblomme (1934), T.T. Cloete se “Ballade van die kerkhof” uit Allotroop (1985) en Zandra Bezuidenhout se “Groet” uit Dansmusieke (2000).
Bron: https://www.litterm.co.za/index.php/k/1565-kerkhofgedig










 
Title: Re: Kerkhofpoësie
Post by: Assie on October 22, 2021, 06:43:48 AM
Eindevandiejaarwinde
weeklaag deur die sipresse
soos die stoet
in doodse stilte
laanaf die dodemars baar.

Tussen geordende rye grafte
bondel toeskouers saam.
Om natwang te weeklaag
wyl gestorwe lyk
kleidieptes in daal.

Wonder gedagtes wonder
by nog 'n oop graf.
Gaan die siel op
al gaan die liggaam af?

 :mumum:
Title: Re: Kerkhofpoësie
Post by: Meraai vannie Baai on October 22, 2021, 06:54:17 AM
 :love7: :hello2: :notworthy:

Assie, ek het my lyf spook gehou so paar minute en jou spoor gevolg (as jy dalk rillings langs jou ruggraat gevoel afgaan het *bloos). Wat 'n heerlike verrassing om jou grafspore hier te vind. Dit is puik gedoen. Ek het eers nodig gehad om te gaan grawe opsoek na inligting oor die verskille tussen die graf gegriffels en sleg gevoel om nie 'n voorbeeld uit eie geledere hier te kon plaas nie. Jy is 'n doring nooi!
Title: Re: Kerkhofpoësie
Post by: Naas on November 14, 2021, 06:53:46 AM
Grawe spit en kluite val,
nog 'n gat in dodedal.
Kraaie gaap en rawe raas
In die takke bo die beneplaas.


Einde van 'n lewe hier geplant
om te groei aan ander kant.
Trane drup waar rouers staan,
bemes die siel om voort te gaan.


Hartseer baar 'n nuwe hoop.
Hoop dat siel ten hemel loop.
En eendag in die hiernamaal
ons wel die siel weer in sal haal.


Maar 'n graf vol bene is maar al,
ja al wat oorbly, in die dodedal.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Kerkhofpoësie
Post by: PM on November 14, 2021, 10:40:39 AM
Dankie dankie vir die deel.  Dit is soos altyd boektoe mooi. 
Title: Re: Kerkhofpoësie
Post by: Meraai vannie Baai on November 14, 2021, 10:45:40 PM
WOW Naas!  :icon_salut: :notworthy: Lief jou rympatroon.  :hello2:
Title: Re: Kerkhofpoësie
Post by: PM on November 14, 2021, 10:49:24 PM
Dit is altyd asof dit vanself kom by Naas.