Die Afrikaanse Forum

Die Biblioteek => Diere en hulle dinge => Topic started by: PM on October 26, 2018, 05:15:18 PM

Title: Iets oor slange
Post by: PM on October 26, 2018, 05:15:18 PM
Ek skryf graag artikels wat kinders kan verstaan en hier is een daarvan:


Iets oor slange.
 
Slange word orals raakgeloop. Sommiges woon onder die grond en ander bo-op die grond. Van die slange wat bo-op die grond woon, soos onder rotse of in grotte sal ook soms in bome gevind word. Daar is slange wat slegs in bome woon sonder om ooit op die grond te kom. Sommige boomslange sal wel gaan prooi soek op die grond en jy sal hulle ook in die water aantref. Slange is goeie swemmers. Ander slange woon weer net in water en kom nooit aan land nie.
Die rinkhals sal soms, as dit baie koud en nat is op die grond, in die onderste takke van ‘n boom klim. Andersins is die Rinkhals nie ‘n slang wat jy in ‘n boom sal vind nie.
Slange kan nie goed hoor nie. Hulle voel meer die trilling op die grond aan en dit is hoe hulle weet wanneer iemand nader kom. Hoe harder die trilling is, hoe vinniger sal hulle spore maak.
Dit is ‘n goeie idee om ‘n wandelstok saam te dra as ‘n mens in die veld gaan stap. Daarmee klop-klop jy so nou en dan op die grond en as jy deur die gras loop, swaai jy dit heen en weer voor jou. Dit sal enige slapende slang laat weet hier kom iemand aan, en hy sal geepad.
Soms word ander slange verkeerdelik aangesien vir ‘n Rinkhals. Die Rinkhals, afhangende van sy ouderdom, is van ligbruin tot ‘n dowwe swart kleur op sy rug. Aan die onderkant, of die maagkant, is hy blinkswart met een of twee wit bande om die keel. Daarvandaan die naam, Rinkhals. Dit beteken ‘n ring om die hals.
Sodra ‘n Rinkhals bedreig voel, sal hy “opstaan.” Hy tel sy kop en bolyf op en hy trek sy nekvelle so bakhand langs sy kop. Hy probeer om baie groter te lyk as wat hy is om jou bang te maak. Dan sis hy: “Ek sssssê ssssssstaan ssssssstil.” As jy ‘n entjie weg is draai jy net daar om en hol weg. As jy te naby is, knyp jou oë toe en vries. Moenie beweeg nie. Hy sal gou moeg word en weggaan. Hy sal jou nié aanval nie.
Slange sal slegs aanval en pik as hulle skrik of in ‘n hoek vasgekeer is. Hulle sal jou nie sommer aanval nie. Daardie stories wat jy gehoor het van slange wat mense jaag, is wolhaarstories.
Dit is wel waar dat sommige slange op hul rug draai met hul maag na bo, en maak asof hulle dood is. Hy wil net hê jy moet hom uitlos en weggaan. Sodra jy hom probeer optel sal hy jou pik.
‘n Rinkhals is ‘n subspesie van die Kobrafamilie. Kobras is baie giftiger, maar die Rinkhals se gif is nie so gevaarlik nie. Hy sal sy kop terug trek en sy teenstaander spoeg. Hy mik regtig nie vir jou oë nie, maar omdat hy vir jou kyk, sal hy na jou gesig toe spoeg. Ek het al ‘n bielie van ‘n Rinkhals gesien wat twee behoorlike strale spoeg uitstuur. Die gif kom uit sy tande uit, net soos wanneer ‘n slang pik. Sou die gif in jou oë beland, dan moet jy dit dadelik uitwas met water of melk of as jy niks anders het nie, urineer in jou hand of ‘n bakkie en was dit daarmee uit. As die gif net op jou lyf is, sal dit geen skade doen nie. Vee of was dit net skoon af. Indien jy ‘n stukkende plek het en die gif beland daarop, dan is dit gevaarlik. Nou moet jy dit soos slangbyt hanteer.
Indien enige slang jou ooit pik is daar ‘n paar goed wat jy moet onthou.
Probeer sien en onthou hoe lyk die slang. Dit is belangrik want anders weet die persoon wat die teëgif moet toedien, nie wat om te gee nie.
Vee of was die bytplek af.
Neem ‘n verband of iets soortgelyk en draai dit styf, so hoog as moontlik om die ledemaat, waar die bytplek is. Dit moet nie so styf wees dat dit die bloedstoevoer heeltemal afbind nie. Dit moet net goed styf wees.
Indien jy ‘n selfoon het en daar is opvangs, skakel vir hulp.
Probeer nou om die ledemaat en die persoon wat gebyt is, so rustig as moontlik te hou. Jy wil nie nou begin hardloop of baie vinnig stap sodat die gif vinnig deur die liggaam versprei kan word nie.
Nou moet jy na die naaste noodhulpstasie of hospitaal gaan.
Nou sal jy sien hoekom dit so belangrik is vir ‘n veldstapper om ‘n wandelstaf, ‘n fles met water en ‘n rekverband in sy rugsak te hê. Daar is nie altyd selfoonopvangs nie, so ‘n mens kan nie altyd daarop reken nie.
Slange doen baie goeie werk in die natuur. Knaagdiere doen geweldige skade. Was dit nie vir slange nie, dan sou ons wêreld gekrioel het van knaagdiere soos rotte en muise en ander peste en plae.
Wees slim as jy in die veld is. Kyk waar jy loop en moenie jou hande in plekke steek waar jy nie kan sien nie. Slange skuil soms onder klippe. Sommige slange jag in die nag en as dit koud word sal hulle onder ‘n omgedopte kanoe of in ‘n seilsak gaan inkruip om warm te word. Dus, kyk voor jy vat!
Dit is nie nodig om enige slang dood te maak nie. Onthou, daar is ‘n doel vir hulle. Lees meer en leer meer oor slange dan sal jy beter verstaan.
 
Kommentaar wat ek by die artikel ontvang het is as volg:
 
Jan Smit
Die rinkhals!
Baie goeie informasie  Piet Magriet. Dit is min dat mense soveel kennis het oor slange en eintlik baie aangenaam om te sien dat almal nie glo dat die enigste goeie slang 'n dooie slang is nie.
 
Net om bietjie meer inligting oor die Rinkhals te gee, wat ek glo nie baie mense weet nie.
 
In Suid-Afrika het ons twee groepe slange, die giftiges en die nie giftiges. Die giftiges het ook twee kategorie. Nero Toksies, soos kobras, en Sito Toksies, soos pofadders. Die adders is grof en hulle gif verteer die prooi van binne af sodat hulle dit makliker kan verwerk, en die kobras verlam die prooi. Die kobras het 'n gladde vel en is lang slank slange en die adders is grof, dik en mollig.
 
Nou ja, om terug te kom na die Rinkhals toe. Die Rinkhals is slank en dun, staan regop en spoeg, soos die kobra, maar hy is grof soos die adder. Hy speel ook dood soos jy in jou berig gese het. As jy na die gif kyk van die slang sal jy vind dit is 'n mengsel tussen nero- en sito toksiese giwwe. Dit bewys dat die Rinkhals beide 'n kobra en 'n adder is.
Die stouterts!
 
Zymrly
Leersame Artikel. Ek kan byvoeg dat verskillende slange se byt verskillend hanteer moet word. Soos die werking van adders se gif verskil van mambas en kobras. En as jy nie uitstekende kennis van serum het nie, moet dit nie gebruik nie. Omdat dit ook jou dood kan veroorsaak as dit verkeerd gebruik word.