Die Afrikaanse Forum

Bak en brou => Resepteboek => Nageregte => Topic started by: PM on August 24, 2018, 03:39:42 PM

Title: Petra se modderkoekies
Post by: PM on August 24, 2018, 03:39:42 PM
'n Outydse kluitjieresep wat ek 'n bietjie aangepas het.  My kleinkind het net so een kyk gegee en gesê hy eet nie modderkoekies nie, vandaar die naam. 

Kook saam in 'n groot diep kastrol met 'n deksel wat styf pas:
ses koppies water (1 en 'n half liter) en twee koppies bruin suiker. 
1 Steranys

Sif onderstaande bestandele saam in 'n mengbak:
2 koppies koekmeelblom
2 teelepels fyn kaneel
1 teelepel fyn gemmer
Half teelepel sout

Vryf 2 eetlepels botter en 6 teelepels fyn appelkooskonfyt in die meelmengsel.

Meng apart 200ml melk en twee telepels koeksoda en voeg dit by. Meng alles met 'n lepel tot 'n deeg.

Gebruik 'n desertlepel om gelykvol bolletjies te skep en in die warm kokende stroop te plaas.

Plaas die deksel op en kook vir 5 minute lank vinnig op hoë hitte.  Verlaag die hitte en kook nog 25 minute stadig.  Dit is baie belangrik om nie die deksel op te lig nie. 

Dit is 'n klomp modderkoekies.  Ek wonder of 'n mens die resep kan halveer.  Gelukkig deel ek graag met my bure. 



Title: Re: Petra se modderkoekies
Post by: Naas on August 24, 2018, 05:03:30 PM
Ek is mal oor kluitjies maar my vrou is baie verlig dat ek dit nie meet mag eet nie.
Ek sal maar in 'n hoekie sit ek kwyl.

 :pottytrain5:


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Petra se modderkoekies
Post by: Meraai vannie Baai on August 25, 2018, 03:23:26 AM
Skuif op asseblief Naas. Ek sal ook maar saam jou sit en kwyl. Vir die lekkerte en om my belustigheid te straf, lees ek die resep oor en oor ...
Title: Re: Petra se modderkoekies
Post by: Naas on August 25, 2018, 07:53:11 AM
Eendag, as ek deur my lewensslaggate kom, gaan ek daai leeuplek van julle bekruip en daarop aandring dat sy kluitjies bak.   :icon_scratch:


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Petra se modderkoekies
Post by: PM on August 25, 2018, 05:29:39 PM
Skuus man, ek het net aan myself gedink.  Ek haat dit om ure in die kombuis deur te bring en hierdie reseppie is so maklik, dit gaan sommer tjop-tjop. 
Jy is meer as welkom  (almal van julle) om te kom kuier en ek maak dit graag, met braaivleis, met pap, met sous, met groente met wat jy ookal wil hê!  Bring dit (die snaakse goed) en ons braai dit! 
Title: Re: Petra se modderkoekies
Post by: Naas on August 25, 2018, 06:12:42 PM
Ek moes altyd my ouma smeek om kluitjies te bak. Vandag spyt ek het nie meer gesmeek nie.
Kluitjies en my ma se padda-ogies.
Ai! Ek sien sommer 'n seekoei sonder swemklere.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Petra se modderkoekies
Post by: PM on August 25, 2018, 06:16:46 PM
Ek lief daardie padda-ogies!  Sal bietjie in my tannie se boek blaai op soek na 'n ou-ou resep.
Ek dink dit is die einde van my dag Naas.  Ek wag en wag en wag om te plaas.  Dit is naweek in Leeupoort.
Geniet die res van julle naweek.
Lief julle stinkend.
Title: Re: Petra se modderkoekies
Post by: PM on August 30, 2018, 11:08:49 AM
O genade, vanoggend wys my gatseggies net in letters.  ??? 
Ons was 'n paar dae sonder krag, en glo my vry, dan kry ons nie opvangs nie. 
Ek was gou hier om die resep te kom opdiep.