Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Meraai vannie Baai => Topic started by: Meraai vannie Baai on August 11, 2018, 05:33:17 AM

Title: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Meraai vannie Baai on August 11, 2018, 05:33:17 AM
As daar een ding is wat die delwersgene in Meraai vannie baai se bloed verslawend laat bruis, is dit die ritme van woorde in sinne. 'n Stukkie van die hemel onthou ek uit my kinderdae... die pluk van snare en Pagoed se stem wat my aan die slaap sing by kerslig. Die kostelike vertellings uit sy maer kinderjare het my smoorverlief gelaat op ABC-disse waaraan die olielamp-reuk amper tasbaar bly hang het. Ek wou lees en skryf vandat ek kan onthou.

Wou al hierdie stories/gesegdes/uitdrukkings uit my kinderdae bewaar sodat die nageslag eendag self kan delf tussen vergange se lyne. Die bewaringspassie het my skaduwee geword en die begeerte om voor 'n grafsteenskrif die laaste hoofstuk van my seisoenlose pelgrimstog aandui, my eie boek styf teen die hart te kan druk, was deel van my menswees.

Vyf en veertig kersies later (op 'n koek) met my studies uiteindelik voltooi (in geradbraakte Engels op 'n vreemde eiland) was daar baie stof vir stories toe ek kreupel van verlange, grond toe gedwing word na die tweede emmigrasie.

Met manlief se aansporing sluit ek aan by 'n Afrikaanse webwerf en ontmoet mense wat my passie vir die ABC deel. Leer ek die vrypostige Aspoestertjie en haar bekkige oupa ken deur 'n geliefde skrywersmater, Naas. Word name huishoudelik soos juffrou Gawie, mevrou Varkie, fraaie Adele, die forumluis, Aurora, ons huidige forummoeder PM en natuurlik 'n paar dubbelgangers wat die gemoedere versuur het.

Saam kuier ons tussen kuber-erwe en in my element smul die uwe vroeg soggens aan 'n rondreisende woordontbyt. Vertroetel die eksotiese genot wanneer die tergende woorde rondgerol word van kies tot kies. Toonomkrulplesier wanneer die woordmandjie aan my arm gevul word met pikante griffels - padkos - wat met toestemming in 'n skuur bewaar was/is terwyl die skeppers rustig balke saag aan die anderkant van die aardbol.

Baie snorke later word 'n gesamentlike droom bewaar en spog ons verse knussies in twee krale vol glansblaaie op koffietafels. Tart verskeie gedigstrukture brawe digters en verskaf stories, fotos en kunswerke 'n vyfster-oogplesier.

Ons eie vyf boeke (hier in die buiteland saamgestel en gedruk) nooi boekwurms om te loer na verskuilde skatte wat blinkklippie tussen lyne glinster. Elke blaai getuig van vyfgetroue 'vingervrinde' wat 'n natgelekte potlood respekvol omhels het voordat die sleutelbord ritmies die geboortepyne aangekondig het van 'n droom.

Ten slotte: Tom Lanoye sê: " ʼn mens skryf ʼn boek in afsondering, dit word verkoop om in afsondering gelees te word", maar omdat hy wil help om die boek te verkoop, gaan hy soos ʼn rock band te werk. Gewapen met ’n CD (in sy geval ‘n voordragprogram gebaseer op die nuwe boek) toer hy en stel die skepping so bekend aan sy gehoor.

Die selferkende woordvraat wou nog altyd 'n voordrag-marathon aanpak êrens op 'n plein waar die mense vir 'n wyle kan gaan stilstaan en luister hoe tongkieswoorde, lettergrepig afgedruk word op jou gees en dan te peins oor geheime wat digters soms skugter bewaar tussen kreatiewe verse.

Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Anastasia on August 11, 2018, 06:05:44 AM
Hierdie mooi stuk skrywe is self 'n erfstukkie wat op elk van die siele wat deel van daardie kring was/is se snare 'n nostalgiese melodie speel.  Jy het 'n lieflike talent om net die regte woord te gebruik wat tot die siel spreek.  Ek het op 'n lang onthoupad gegaan met die lees van die juweel stuk.
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Meraai vannie Baai on August 11, 2018, 07:03:37 AM
Jou woordsnoer-kommentaar hang ek om my sielehals geliefde mater.  :love7:
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: PM on August 13, 2018, 02:47:12 PM
Daar was, lank gelede, 'n klein dogtertjie gebore met 'n skrywerslepel in haar mond.  Sy het die gawe ontvang van skryf en lees en verstaan en 'n oorweldigende liefde vir haar taal, ons taal ens.

Ai, ek sit nou hier, vir die hoeveelste keer en probeer om Meraai vannie Baai, die skrywer, te ontleed. Jy is soos 'n diamant met verskillende geslypte fasette, maar vir my is jy die diamant op die forum.  Ek sal wat wil gee om jou stem te hoor as jy die werk voorlees.   Ek stem saam met Anastasia. 
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: adele on August 13, 2018, 06:01:41 PM
Ekke is net hier neffens die verhogie op myse veld-riempiestoeletjie, luisterend na die voorlees van gedigte, nou al 9 ure aanmekaar, so asof om 'n ronde tafel, elkeen ingeleef in die woorde wat hul vertellend voorlees .... daar lê nog lange ure voor wat vir hierdie maraton-voorlesing beplan is. Ek nooi al ons lesers uit om te kom luister, en 'n stuiwer in die armebeurs te kom verwoord.....
 :icon_study:   :love7:   :icon_study:   :love7:
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Meraai vannie Baai on August 13, 2018, 11:12:43 PM
 :icon_bigsmurf:  :angel4:

My beker loop oor. Sou dit nie wonderlik gewees het as regtig so maratonvoorlesing kon hou nie julle! Dankie baie baie vir die mooiste woorde. Lief julle oor 'n duisend, en meer!

 :love7:
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Anastasia on August 14, 2018, 02:15:10 PM
Sit dit my nou aan die dink:  ek wou nog altyd my naam in die Guinness book of Records gehad het.  Wonder of daar al ooit so aanslag op so rekord vir die langste groeps/aflos voorlesing van gedigte was? Sal lekker wees!
 :evil5: :evil5: :evil5: :evil5: :evil5: :evil5: :evil5: :evil5: :evil5: :evil5:
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Meraai vannie Baai on August 14, 2018, 10:57:42 PM
Jy lees my gedagtes mater  :icon_salut: Ek het baie jare gelede probeer voelers uitsteek wie sou bereid wees om met die gedagte te loop maar heelaas... dit het net 'n versugting gebly.
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Naas on August 15, 2018, 02:38:52 AM
Dit gaan meer as 'n kabouter op 'n vark kos om die voorlesing te reel. Ek sal nie eers weet waar om te begin nie.



 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Meraai vannie Baai on August 15, 2018, 05:11:16 AM
  :snorting:  :snorting:  :snorting:

Ons moet net die drie varkies aankeer...
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Anastasia on August 16, 2018, 05:46:29 AM
Naas, ek sou die kabouter kon organiseer.  Maar waaaaaaar kry ons varke vandaan?   :dontknow: :dontknow: :dontknow: :dontknow:
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: PM on August 16, 2018, 12:37:17 PM
Julle praat nou in raaisels.  Is die onmoontlike tog moontlik en hoe?
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Naas on August 16, 2018, 01:12:41 PM
PM, vra vir Jan dink of ons klank op die forum sal kan sit asb.



 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: PM on August 16, 2018, 01:30:27 PM
Ek het al gevra Naas, maar ek doen dit dadelik nou weer.  Dit sal ons lewens verander!
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Naas on August 16, 2018, 01:33:51 PM
Noorderliggie, as die varke wat op woes was nie so wild rondgeloop het nie kon ons dalk 'n paar van hulle aankeer.   :sign10:


O hoener!!! Nou's ik kniediep in die poef!!! :pottytrain5:
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Anastasia on August 16, 2018, 02:01:27 PM
Naas, ons twee praat PM se kop deurmekaar met ons varkpraatjies, dan sleep jy nog 'n hoender ook daarby!  Haaaaa haaaa :hello2:
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Meraai vannie Baai on August 16, 2018, 10:55:40 PM
Nee, maar ek like. Ek like  :headbang: 'n Vark en 'n hoender - ons boer vooruit!
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Naas on August 17, 2018, 01:25:22 AM
Die probleem is wanneer varke jou die hoenders in maak vat jy jou koei, klim op jou perd en trek plaas toe



 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Meraai vannie Baai on August 17, 2018, 07:08:47 AM
Tik ek 'n hele relaas, druk verkeerde knop en sien net 'n witskerm met boggerol op agterna  :icon_biggrin: Alles weg. Vark, hoender, koei, perd en amper die plaas ook (sal seker nie lank wees nie dan gaan 'n donkersiel hom ook onder onse neuse kom steel vat :`ip2: :mumum:
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Naas on August 17, 2018, 07:45:27 AM
Assie se Oupa se nou die dag vir my, "Was daar nie 'n boer om die volk te voer was hul lankal in hul moer." Verskoon die Frans maar dis vir my so waar, die gesegde.




 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Meraai vannie Baai on August 17, 2018, 09:49:36 AM
Daardie is geen lieg Naas. Ons besef dit almal hoor.
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Anastasia on August 17, 2018, 10:59:45 AM
En Naas, die neukery is huidig vir ons boere dat die ander klomp kom en sommer jou vark, al jou hoenders, die koei en die perd wat jy wou opsaal saam met jou plaas onder jou kom uitvat, en dan sommer nog oor hul skouer gou terugloer en nog die ABC uit jou mond kom vat wat jy hulle wou toesnou.  Maak ek nou 'n grappie met 'n eintlike seer en tragiese sakie vir ons ou volkie, ne?
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Naas on August 17, 2018, 11:07:07 AM
Humor maak die laste ligter.
Selfs die berge waar die hulp vandaan kom behoort nie meer aan ons nie.
Ek hoor die Polisie dreig nou om ses uur saans toe te maak as die regering nie sekuriteitswagte aanstel om hulle op te pas nie want hulle werk raak nou te gevaarlik. Bid jou aan...



 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Griffels vir die blad 'Denke van 'n skrywer'.
Post by: Anastasia on August 17, 2018, 12:33:53 PM
Ek het daardie onmoontlike redenasie anderdag raakgelees, Naas.  Ek het eers gaan loer of dit nie dalk 1 April was nie!  Ja nee, dit help lank nie meer om jou oe op te slaan na die berge toe nie.  Jy kom net agter dat dit klippie vir korreltjie sand oornag weggedra is terwyl jy loop slaap het!