Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Anastasia => Topic started by: Anastasia on June 22, 2015, 10:41:58 AM

Title: My bundel
Post by: Anastasia on June 22, 2015, 10:41:58 AM
Ek is vreeslik gelukkig dat ek 'n uitgewer gekry het wat my woorde goed ag om uit te gee.  Ek mag wel van die werke plaas.  Gaan hier van hulle plaas, die onder die hofie is almal vervat in die bundel "Verse in Aanhouding".  Ander sal ek plaas onder 'n ander hofie.  Al die gedigte is gemerk volgens datum, vir 'n rede.  Ek sal later aan julle die omstandighede waaronder die verse geskryf is vertel.  Lees maar eers net lekker saam.

Vakuum
 
Ek is teenwoordig
In my afwesigheid.
 
Môre se môres
Het verdwaal in die glipstrome
Van gister se gisters.
 
Uurwyser
Almanak
 
En ek-
‘n Randfiguur
Stille getuie
Dat ek
Eens was …
Steeds is?
 
Vasgevang in ‘n vakuum.
 
© Anastasia Bester 19 November 2011
Title: Re: My bundel
Post by: PM on June 22, 2015, 10:45:56 AM
Baie geluk Anastasia.  Publiseer jy onder jou eie naam?
Ek is oortuig daarvan dat jou werk uitstekend is.   :hello2:
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on June 22, 2015, 10:50:09 AM
Ja, PM, onder my eie naam.  Snaaks, ne?  Al die jare het ek gedink dat uit my eie perspektief my gedigte goed genoeg is of was om gepubliseer te word.  Maar geen uigewer wou dit doen nie.  En nou, nou het ek 'n keuse gehad.  Meer as een het belang gestel.  Want die omstandighede daar rondom en die feit dat hulle glo sensasie dit sal laat verkoop, was dink ek die leading factor.  Ai, so snaaks tog.  Dis mos maar hoe die lewe gaan, en die mensdom.  Sensasie sells.  Ek is ook besig om 'n boek te skryf:  "Gekke en Dwase"  - soos in Gekke en Dwase skryf hulle name op deure en glase.  Dit vat egter lank, want dis pynlik.
Title: Re: My bundel
Post by: PM on June 22, 2015, 10:57:08 AM
Pragtig!  Die lewe loop mos maar draaie met 'n mens. 
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on June 22, 2015, 11:04:01 AM
Laataand vers
 
‘n Versie wil homself opdring
Astrant laat hy hom nie bedwing
As ek hom in die boek toeklap
Loer hy vir my, dink dis ‘n grap
 
Oplaas het ek hom ingenooi
Net voor Klaasvaak sy sand kom strooi
Gedagtig aan sy guitigheid
Hoop ek vir skaars lighartigheid
 
Vir donker, doolhof, oopkrapvers
Wat seer gevoelens oop wil pers
Sien ek, helaas, vanaand nie kans
Wil eerder in die maanskyn dans
 
Maar woord uit pen word nie beheer
Algou spoeg ink oor wit die seer
Van eensaam, hartseer, hartbreekvers
In flonker lig van digterskers
 
Tussen fragment van hartbreekstuk
‘n Vae onthou van goud geluk
Toe jy en ek ‘n eenheid was
Ons lewe uit een lewenstas
 
Nou gly my vingers oor papier
En wens ek vurig jy was hier
Ek sluit die boek, blaas dood die kers
Dié rondte hoort aan laataandvers
 
© Anastasia Bester 24 Mei 2012
Title: Re: My bundel
Post by: PM on June 22, 2015, 11:06:56 AM
Die emosies wat jy skep raak diep. 
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on June 22, 2015, 11:10:55 AM
Dankie, PM.  Ek is nog dom met die emoticons, soek die ene wat buig, kry vi hom nerens! 
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on June 22, 2015, 11:19:28 AM
Snags
 
Snags
As my pen griffel oor papier
In die donker, eensaam, laatnag uur
Mot-om-‘n-kers my gedagtes om jou
Fluweel my gedagtes wat sag om jou vou.
 
Kosbaar die tyd net met ek en my
Voel vir ‘n oomblik gewoon en bevry.
Luister verruk na die reën wat sag daal.
Woorde gebore uit pen in my taal.
 
God het van voor my geboorte geweet
Daarom in liefde aan my uitgemeet
Woorde wat nanag hul eie koers kry
Vir 'n oomblik my uit 'n tronk kan bevry.
 
Vroeg oggenduur kan ek my sterk verbeel
Hoe my hand jou slapende wang liggies streel
Ek stuur hierdie woorde deur tralies van staal
In die sagste hartletters van ons mooie taal.
 
© Anastasia Bester 26 November 2011
Title: Re: My bundel
Post by: PM on June 22, 2015, 11:21:50 AM
Pragtig geskryf!

Ek sien net hierdie een,  :notworthy: maar ek bedoel dit uit my hart.
Title: Re: My bundel
Post by: Meraai vannie Baai on June 22, 2015, 11:30:10 AM
Ek hang aan jou lyne!
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on June 22, 2015, 12:14:58 PM
Dankie julle ou staatmakers.
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on June 22, 2015, 12:44:05 PM
Krag
 
Ek hou myself sterk
Deur nie te mis
Wat ek hartstogtelik mis nie
Nie te verlang
Waarna ek hartoopbreek verlang nie
Deur nie te droom
Waarvan ek reikhalsend droom nie.
 
© Anastasia Bester 26 Mei 2012
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on June 22, 2015, 12:49:35 PM
Soveel meer


Soveel meer
 
Meer as die binneperk-
Grendel, slot,
Eindelose tyd wat strek.
 
Meer, veel meer
As sleutelknars in binneslot,
Die ver verwyderd voel van God.
 
Is die soeke na jouself
Die buitekant toe binnedelf.
Die hoop om weer jouself te vind
In ylgrou koue winterswind.
 
© Anastasia Bester 21 November 2011
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on June 22, 2015, 12:57:18 PM
Moedersdag


Korreltjies sand in my hand
‘n Spesiale liefdesband
Geskaad geknip
Met bloed bedrup
Die uurglas leeg
‘n Moeder is té lig geweeg
 
Die water druip deur bak die hand
Hoe herstel mens weer die liefdesband?
Hoe loop mens weer ou paaie na
Om weer jou kind saam te mag dra?
Die water wat deur vingers gly
Is nooit nie nooit weer terug te kry
 
Vir nege maande saamgedra
Maar watter woorde kan dan vra
Om weer net Moeder te mag wees
Al is dit dan maar net in gees.
Geen woorde kan die plek weer vul
Hul vries om mond en raak so stil
 
En in die spieel sien sy die vrou
Haar beeltenis gehul in rou
Haar oë vertel van hierdie tyd
Van smaad en seer en selfverwyt
 
‘n Foto is al wat sy nou
Nog styf teen haar hart toe mag vou.
 
© Anastasia Bester 13 Mei 2012
Title: Re: My bundel
Post by: Meraai vannie Baai on June 23, 2015, 10:39:16 AM
Woorde ontbreek my. Kan net indink waar deur jy gegaan het, en so dankbaar dat daar 'n ontsnappingsroete via die ABC was! Dankie dat ons mag deel in jou wedervaringe.
 
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on June 23, 2015, 12:14:07 PM
Baie dankie, Meraai.  Julle ken my mos maar as 'n brutale eerlike mens.  Ek deel die wedervaringe, is van plan om dit op die man af nog te deel ook.  My boeke wat gepubliseer gaan word onder my eie naam, sien ek as getuienisse.  Mens kan dinge wat in jou lewe gebeur het ontken, misken, wegredeneer en onder 'n mat met 'n besem invee.  of jy kan dit aanwend om ander se lewens aan te raak en te verryk.  Ek beplan ook om eersdaags te begin met motiveringspraatjies by skole.  Op die oomblik is dit net my gesondheid wat my nog weerhou.  Die ou liggaam laat my ietwat in die steek.  Ja, die ABC was voorwaar my redding.
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on June 25, 2015, 09:39:27 AM
Dit is waarom die datums belangrik is by die plasings.  Tyd genees.

HERSTEL

Mens kan sonderling
Jou hart weer voel sing
Eensaam, apart
Net jy en jou hart.
 
Nanag ronddwaal
Selfs sterre gaan haal
Hul een-vir-een pluk
Vir jou sielegeluk
 
Die sleutel se knars
Kan die seepbel laat bars
Maar onthou kan om jou
Soos 'n donskombers vou
 
Ligvoetig kan jy
Deur die traliehek gly
In die volmaan se glans
Op die doudruppels dans
 
Spieelbeeld kan vertel
Jou siel het herstel
Weet jy NOU is 'n brug
Na jou vroeere self terug.
 
29 Mei 2014
Title: Re: My bundel
Post by: PM on July 01, 2015, 02:39:05 PM
Dit gaan beslis 'n voortreflike bundel wees Anastasia. 

Jammer om te hoor dat jy nie so mobiel is as wat jy graag wil wees nie.  Hoop dit gaan sommer gou beter.  :love7:
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on July 14, 2015, 01:38:23 PM
LIED VAN 'N VROU WAT BREEK

Hier het ek geleer om te wag ...
In drome waar ek vergeefs na jou smag
Ek het toegelaat dat ek van jou weg kon dwaal
Snags soekend na jou in die maanlig se straal

Ek kan my weg nie terug weer vind
Waarmee kan ek my aan jou weer verbind?
Die muur kan ek nie meer afbreek
Die muur is te hoog, rondom my gebou
My kragte laat my in die steek
Waar vind ek jou
Waar kry ek jou
Die muur is so hoog rondom my toegebou

Ek sing en ek sing
Maar my stem kan net nooit  die mure deurdring

Die vuur in my hart is al dood
My vrouwees verhongerd, vergeet in my skoot
Langsamerhand word dit kouer en kouer
Die muur is te hoog, te hoog is die muur
Lewendshitte verlaat my, word louer en louer
Die prys word betaal, dis duurder as duur.

Ons toekoms word ons verlede
Al probeer ek om my hande daar rondom te vou
Die muur bly hoog staan tussen my en jou
Al prewel my lippe my honger gebede

Dis te hoog
Dis so hoog
Die muur is te hoog
Die muur bly daar staan
Tussen my en jou

21 Desember 2012
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on July 14, 2015, 01:52:19 PM
TASBAAR

My vingers word padkaarte
Wat my toekomstige tuiste verken
Onbekende wee
Mistige horisonne
Goudbreek sonsopkomste?
Kaalvlakte reendae?

Maar aan die einde
Waar die aardkors breek
Is jy
Is ek vir ewig vry

Ek betree die pad
Met geslote oe
Geknipte Lewenslyn na Bo

My vingerpunte sensors
Wat deur die doolhof breek
En iewers in die Lig daarbo
Wag jy
Is ek vir altyd  vry
En soos 'n kind alleen kan glo
Daar bo
Daar le my grootste skat versteek

'n Droom waaraan ek amper weer kan raak
Maar soos 'n hersenskim
Verskuif dit verder, verder weg
Net as
My vingerpunt
Daaraan wil raak.

24 Desember 2011
Title: Re: My bundel
Post by: Meraai vannie Baai on July 14, 2015, 11:18:42 PM
Dankbaar dat jy met ons hierdie deel. Onlangs drie reekse gekyk oor vroue in aanhouding en jou gedigte is 'n eggo.  :notworthy: :icon_salut:
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on July 19, 2015, 08:19:31 PM
Interessant, sal meer wil hoor oor daardie reekse, Meraai.  Die gevangenis is 'n wrede plek vir vroue.  Hulle samevoeging en emosionele stand is nie gebou vir so iets nie.  Veral nie vir die weg wees van die geliefdes en kinders nie.  Ongeag wat hul oortredinge, ongeag hoe geskoold hulle is.  Vir vroue is dit erger.
Title: Re: My bundel
Post by: Meraai vannie Baai on July 20, 2015, 12:46:38 AM
Baie gewilde reekse gewees hier in ons deel van die wereld. Reeks 4 word volgende jaar vrygestel. Ek los vir jou die skakel waar jy 'n kort opsomming van elke episode kan lees.

https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_Orange_Is_the_New_Black_episodes
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on July 20, 2015, 08:13:21 AM
O, ja, die orange is the new black.  Ek het ook van dit gesien.  Dit is baie lewensgetrou gedoen.
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on July 20, 2015, 08:15:02 AM
Is dit vir julle ook so half arig as mens sien jou gedigte is al oor die twee honderd kere gelees, met geen kommentaar daarby nie.  Miskien is dit maar net ek, omrede my gedigte oor so omstrede onderwerp handel, maar dan wonder mens of hulle gelees en hmfff met die neus gesnuif het, dat daar geen kommentaar voetspore gelaat word nie?  Maak my effe ongemaklik.
Title: Re: My bundel
Post by: Naas on July 20, 2015, 11:07:36 AM
Moenie daai boggel op jou rug sit nie. Nie nodig nie. Hier op die forum kan hulle in elk geval net komtaar lewer as hulle deel is van die forum en jy weet ons is net 'n beesuier vol wat hier deelneem. Die feit dat dit 200 keer of hoeveel ook al gelees is beteken mense daar buite dink dis goed genoeg om met ander te deel of om terug te kom vir nog 'n lees. Die glas is half vol so daar is plek vir nog brandy.



 :icon_bigsmurf:
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on July 20, 2015, 11:27:12 AM
Naas, jy is die ewige optimis, en dankie vir die se.  Jong, ek is mos maar hoeka so by so 'n vreeslike fyngevoelige mens.  En nou met die ding ook nog op my.  My man se mos hy neem my nie saam rugby toe nie, as hulle skrum dan dink ek hulle skinder van my.  Is maar 'n moeilike bloukol hierdie van my wat ek met my moet saamdra.   :dontknow:
Title: Re: My bundel
Post by: Meraai vannie Baai on July 23, 2015, 04:05:11 AM
Skrum sal noooooooooit weer selle wees nie  :toothy4: :sign10:
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on July 30, 2015, 12:52:49 PM
Hie hie Meraaitjie.   :bunny:
Title: Re: My bundel
Post by: PM on August 07, 2015, 11:51:48 AM
Anastasia, ek seg mos altoos dat die internet vol lesers is.  Hulle praat nie veel nie.  Ek self staan dikwels met 'n bek vol tanne as ek iets gelees het wat emosies wakker maak.
 
Ons het al oor die 500 lede, maar jy hoor niks van hulle nie.  Hoe nou gemaak?

Jou werk is goed en ek glo die groot meerderheid dink ook so. 


Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on August 09, 2015, 03:30:40 PM
Baie dankie, PM.
Title: Re: My bundel
Post by: Anicia on January 29, 2018, 02:45:25 PM
Jou gedigte is baie mooi! Het dit lekker saam gelees en dankie dat jy dit met ons gedeel het. Ek is baie bly vir jou dat jy 'n uitgewer gekry het. Deesdae sukkel mens om iemand te kry.
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on May 27, 2018, 03:48:32 PM
So neem jou lewe jou in verskillende fases.  My passie is maar onderwys, en natuurlik, veral vir die lewende materiaal - die kinders, en hulle siele.  Wonderlike voorreg.  Ek het die gedig geskryf midde in 'n groot gekleurde seepbel toe ek weer so bevoorreg kon wees om vir 'n ruk skool te hou:

POEM OF PRAISE
Blessed, blessed am I  in my late-life-hour
Upon me God, you lovingly shower
Diamond droplets from Above
Tucking me in with Your Blanket of Love
How do I thank thee, how do I praise
Higher and higher, still higher I raise
My feet  had been dragging, my candle burnt out
Total eclipse of my sun by a cloud
And somewhere, afar, from a school in the South
My soul sensed an echo from a God fearing mouth
For a cloud-burst of miracles showering down
On a God fearing school in an Eden-like town
And where I was lying awake, with my pain
Lonely and fearful, with nothing to gain
Praying for peace, for acceptance of this:
The slow, cruel descend in a big black abyss
Ever so gently, with my broken wing
You taught my mute mouth once again how to sing
The shock, the delight when the first time I heard
My jingle of laughter - long buried and dead
And always the mocking, the voices, the yearning
My passion for teaching refused to stop burning
A sigh would escape from my bleak and pale mouth
My spirit, my Soul, shouted: South, do go South!
The miracles broke from a frozen, dead egg
And snuggled I lay in a warm, loving bed
Healing my heart and my mind and my soul
A vision received of a God-handed goal
My new voice sings loud, and incessantly clear
I am where I should be – I’ve arrived, I am here
And like a good traveller, presents I bring:
A heart full of love and a soul that will sing
The shattering sounds of my chains breaking loose
My neck once again clear and freed from the noose
My life will become like His last Supper meal
I’ll share the dried blood of a heart fully healed
Written by Anastasia 10 May 2018
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on May 27, 2018, 03:53:24 PM
METAMORPHOSIS

Lift back the heavy curtain of the night -
Be free, oh butterfly, and take your freedom flight!
Too long the darkness in your tight cocoon -
Your solo flight with fragile wings awaits you soon.

Invite the dancing rays to guide you on your way
Too long, so long, was black your dark and tomb-like stay
For you, fairy delight, God has created those amazing wings
Fly off, explore, be brave, while all the while the Angel sings!

Oh light, dear light, you are so blinding and so bright
My light, so bright, so beautiful an unexpected sight!
Light, shining so bright - how can you be so unbeknownst to me
And yet, I know - that this is where I have to be?

The curtain, dark, is violently ripped in half
Light, can it  be that you are just a holograph?
I drink the light, I fill my every pore
And know: the dark will never be around me any more!

Oh light, my light, so bright.  So right.  My light!
Oh wings, so broken, yet so strong.
Oh light, oh wings, oh light within my wings
Oh flight, oh light, oh flight within the light!

Anastasia Bester 12 May 2018
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on May 27, 2018, 04:06:24 PM
ONCE UPON A TIME

Once upon a time, long, long ago – there was a passionate teacher who became bent over with disease and suffering.  Her heart ached and longed every day for real flesh-and-blood students in her class.  To ease the longing, she started playing pretend-school with wooden puppets, teaching and helping with schoolwork on the internet.  She taught various subject material, and in-between a few life lessons as well.  It was very rewarding, but the longing in her heart was like a wound-up clock - you grow used to its seemingly unnoticed tick-tock, but every now and again you recognize it for what it is. 
And one day, amazingly, she heard a ‘poof’ sound, and there they were!  REAL flesh-and-blood students sitting in front of her.  Without the need for words, her soul started to converse and relate with some of them.  She was given back her magic wand.  She was taken by surprise and unpracticed.  Initially she made a few mistakes. She secretly giggled at her own blunders.  But the students attached to her soul did not really mind.  They were patient, and waited for the magic to start.  And what magic there was!  Some of them had also gone through storms.  Their petals were no longer turned to the sun.  Others were crushed and damaged by people’s careless disregard to recognize a thing of wonder and beauty for what it is.  She could make a change in their lives.  She could hold up a mirror and show them just how amazing they really were.  And oh, what a difference they made in her life!  She stopped in be wonderment one day to see that she had grown fairy wings once more.  She could fly, one of these days.  Her image winked at her: “You just wait and see!”
She waved her wand recklessly through the air, upsetting quite a few passersby’s   and students.  But she did not care a thing.  The fairy dust landed where it was intended and coloured her whole world into a huge, magical and glowing rainbow.
They were there, they were real.  The difference to her was not so much in the fact that they were made of flesh-and-blood, rather than being wooden puppets.  To her the magic lay in the fact that they had souls.  Souls she could relate to. 
At night she felt the familiar tears, but this time they were happy tears overflowing.  Blessings beyond merit.  Fairies had dropped a golden net over her whole world.  On the day she was at the very edge of her happiness rainbow, about to land in the pot of hidden gold, it happened … another ‘poof’ sound!
She couldn’t understand it.  It made no sense.  She is still confused.  Circumstance  had ripped her back to the window and all she had was her puppet students. She was so worried about her soul-kids.  Would they think that she had deserted them?  How would she live through this pain?  For once she thought she would not survive. But soon she realized she should not be selfish.  Those students needed her guidance.  No matter what.  She has made an obligation, a solemn promise to them.  And guide them she would.  Even if it meant passing on her wisdom through the barrier of a window pane or computer screen. After all, they did not have to be present in the flesh any longer.  She already knew and treasured  their souls.  She would teach them the knowledge to pass their exams.  To excel.  BUT she would also pass on the wisdom of life and teach them the art that humanity had long lost: the art of sharing your inner emotions and telling people their worth and value in your life. 
Teach them to be tolerant.  To tread with a light foot.  Because there are so many fragile flowers of beauty.  The difference is in pausing long enough to notice. People are as different as all the shells  washed up on the shore.  That was how it was meant to be.  Since God had breathed his Mighty breath over it all and created the wonderful life and universe we are so privileged to experience.
Because,  if you are really working from your heart, from your soul, things like puppet-like students on the other side of a screen doesn’t really matter.  They have flesh-and-blood hearts that would receive her teachings and wisdoms and lead happy and successful lives one day, long after she had gone….

Title: Re: My bundel
Post by: Naas on May 27, 2018, 05:12:09 PM
These works are truly touching my soul. WOW.   :icon_salut: :icon_salut: :icon_salut:


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on May 27, 2018, 07:24:11 PM
Goeie naand, Liewe Naas.  Dit moes seker jou siel geraak het, dankie, as jy my in die Rooi Taal antwoord.  Dankie vir jou kompliment.  Komend van jou is dit vir my 'n juweeltjie.
Title: Re: My bundel
Post by: Meraai vannie Baai on May 27, 2018, 10:59:35 PM
Met respek kom stap ek op die woordspore van Naas en beaam met: it touched my soul :crybaby2: :icon_salut:  :notworthy:
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on May 28, 2018, 07:36:51 AM
Baie dankie, Meraai.   :hello:
Title: Re: My bundel
Post by: PM on June 20, 2018, 06:38:55 AM
Jy moenie ophou skryf,  of ophou om jou werk hier te plaas nie Anastasia.  Hier is 'n paar van ons wat dit werklik waardeer, dan is daar nog 'n klomp wat nie kan antwoord nie. 
Ek weet nie wat die antwoord is nie, maar om die forum oop te gooi vir almal is middernag!
Title: Re: My bundel
Post by: adele on June 20, 2018, 02:00:23 PM
Hier dwaal ek nou lees-lees deur mooi skrywes, het eers nie geweet waaroor dit gaan nie, maar nou verstaan ek. Is jou bundel toe uitgegee?

Ek het verlede jaar deur 'n goeie vriend se memoirs gelees, hy het dag-vir-dag-dagboek gehou van sy twee en half jaar daar agter gryse mure .... ek het gehuil... openlik voor God, alleen in my huis. 
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on June 22, 2018, 07:42:41 PM
Baie dankie vir die tyd wat jy afgestaan het om my woorde te lees en so mooi terugvoer te gee.  Nee, ek het daarteen besluit, om maar my geliefdes gedeeltelik te beskerm teen die sensasie en die oopkrap van ou wonde.  Ek het drie jaar en drie maande daar spandeer, en as dit maar het einde was.  Ten spyte daarvan dat ek baie liefde en aanvaarding van menige kry, is daar tog diegene wat steeds oordeel en veroordeel en jou in 'n boksie plaas, nou al soveel jare daarna.  Die ergste van alles, meestal deur andere wat self agter 'n deur staan, maar as gevolg van slenters en onwaarhede net nooit formeel die pad geloop het nie.  Dit sny diep.  Dit was 'n deel van my lewe wat ek nooit agter my sal kan laat nie.  Fisiek het dit 'n geweldige groot tol op my gesondheid gelaat, en die emosionele letsels is hartseer genoeg eintlik maar as gevolg van mense wat dit weer graag wil sien bloei.  'n Mooi aand vir jou, geseende mens.
Title: Re: My bundel
Post by: Naas on August 15, 2018, 03:30:03 AM
In die beenkamer van my geheue is daar boekrakke vol seer. Die enigste pleisters is die stoflaag van vergeet. Hoe graag wil ek daardie deur toesluit en die sleutel in die see verdrink. Maar heellaas, wanneer eensaamheid kom kuier stof ek self die boeke af en blaai ek deur gedagtes liefs vergeet.
Sterkte vriendin. Jy is al deur soveel in jou lewe en steeds staan jy driebeen sterk en glimlag nog soos Ceaser.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: My bundel
Post by: Meraai vannie Baai on August 15, 2018, 05:32:52 AM
Verdrink (uit vrye wil) in jou woorde mater, en die kommentare is woordgoud vanself.
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on August 15, 2018, 07:34:03 AM
RE: Jy is al deur soveel in jou lewe en steeds staan jy driebeen sterk en glimlag nog soos Ceaser.

Dankie Naas!  Ek dink mens se gesig het in gelukkiger dae geleer glimlag, en daarom kom frons maar net moeiliker.  Ek het werklik nog nooit, deur my hele Golgota gebeure, ooit een dag NIKS gehad om uit my maag uit te lag nie.  Selfs daar waar ek alleen was.  Ek dink ek het my eie kielie masjien in my hart gekry met geboorte!

Meraai:  ek het SOVEEL waardering vir die goue voetspore van kommentaar hier, maat!
Title: Re: My bundel
Post by: Naas on August 15, 2018, 07:58:09 AM
Jy moet mooi lees. Ek lees jou werk endan personifiseer ek dit op myself. Ek dink jy is deur baie meer as ek maar is sterker as ek as gevolg daarvan. Ek trek so maklik die swart jas aan en sluit myself in die tronk van my skedel toe terwyl jy figuurlik 'n kruk vat en voortbeur met 'n glimlag.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on August 15, 2018, 09:55:25 AM
Naas, ek weet en sien dat jy baie besoek aan my skryfbeddingtjie bring en waardeer dit baie.  Ag jong, ek neem geen krediet vir my voortbeur en aangaan nie.  Meeste van die tyd is dit ook maar omdat die alternatief daarvoor nie juis 'n beter uiteinde het nie.  Ek het egter steeds soveel rede om een voet voor 'n ander te sit.  En dit is genoeg.  Elke ou se pakkie is maar swaar.  As ons die keuse mag kry om 'musical chairs' met ons pakkies swaar te speel, dink ek min sal so braaf wees.  Liewer die ou bekende moeilikheid wat ons al mee leer saamleef het, as 'n ander nuwe pakkie wat weer nuwe eelte op jou boggel moet skaaf. 
Title: Re: My bundel
Post by: Meraai vannie Baai on August 16, 2018, 03:51:22 AM
Jy was 'n slagoffer van die woorddief:  :notworthy: :love7: :icon_salut:
http://forum.afrikaanseforum.co.za/index.php?topic=4297.msg29102#msg29102
Title: Re: My bundel
Post by: Anastasia on August 16, 2018, 05:43:35 AM
Ek buig laag en ontvang die erkenning met grasie, dankie!