Die Afrikaanse Forum

Digkuns => Digformules of -strukture => Topic started by: PM on March 31, 2011, 08:57:41 AM

Title: Die Lento digformule
Post by: PM on March 31, 2011, 08:57:41 AM
Kom speel saam en skryf 'n gedig in hierdie formaat. 

‘n Lento word in twee kwatryne geskryf.  (‘n Kwatryn is ‘n stanza wat uit vier versreëls bestaan, met ‘n voorgeskrewe rympatroon.)

Dit is ‘n vereiste dat die 2de en 4de versreëls met mekaar rym.  abcb.  Die digter het ‘n keuse of hy/sy ook die 1ste en 3de versreël met mekaar wil laat rym.  abab,  cdcd.

Al die eerste woorde van elke versreël in die stanza moet met mekaar rym.   aaaa, bbbb.

Al die versreëls moet min of meer dieselfde lengte wees en alleen kan staan.   Probeer die metrum ritmies hou.

Dit staan die digter vry om van stylfigure gebruik te maak, maar onthou,  elke versreël moet selfstandig staan.

Vier stanzas sal ‘n Dubbel Lento genoem word en ses stanzas sal as ‘n Trippel Lento bekendstaan. 

Hier plaas ek as voorbeeld,  die gedig deur die skepper van hierdie struktuur.  Uit die aard van die saak dig hy in Engels. 

So uit die perd se bek!  Lencio Dominic Rodrigues se voorbeeld:

                     Composed in winter of Two Thousand Five,
                     Proposed by my dreams, this entire theme,
                     Exposed now for all to write and have fun,
                   Supposed to be easy though it doesn't seem.

                    Two verses of four lines each you will write,
                    Do rhyme the beginning word in every line,
                     Pursue to keep last rhymes in line 2 and 4,
                    Chew your brain a little, you'll do just fine!
Title: Re: Die Lento digformule
Post by: Naas on April 13, 2011, 09:20:12 PM
Waar’s jou Lento nou?

Waar is my inkpot en my pen?
Daar is ‘n gedig om te skryf.
Raar is die reëls om by te hou.
Maar die vorm is glad nie styf.

Krap ek eers ‘n bietjie kop.
Trap ek eers ‘n bietjie klei.
Slap sal ek beslis nie lê nie.
Knap sal ek die ritme kry.

Nou gaan jy my nie keer nie.
Gou gaan ek ‘n versie baar.
Hou die spasie nou maar dop.
Jou Lento het ek amper klaar.

Met my inkpot en my pen.
Het ek nog ‘n gedig geskryf.
Het ek by die reëls gehou?
Net die ritme is in my lyf.

 
 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Die Lento digformule
Post by: PM on April 14, 2011, 08:14:26 AM
Skote Petoors!   :icon_salut:  Jy is 'n staatmaker Naas en steeds geniet ek jou sin vir humor.  Baie dankie vir 'n pragtige voorbeeld. 
Title: Re: Die Lento digformule
Post by: Trapsoetjie on May 12, 2011, 01:55:28 PM
My wonder lento

Onder die dikwortelboom
Bewonder ek die seine
Wonder ek oor ‘n droom
Sonder ‘n begin of einde

Sukkel ek om tot verhaal te kom
Wikkel donker wolke van mis af
Prikkel ‘n geur van geluk rondom
Toegewikkel in roos kleurige staf

Blind bars die woorde deur
Vind elke een sy plekkie
Verslind ek die soet stroop
Bind ‘n lind om die pakkie

Daar is die storie van nooit einde
Waar is die sprokie van geen begin
Klaar gemaak met geen punte
Sowaar ‘n geskenk vir ‘n koningin

©

 :angel12:


Title: Re: Die Lento digformule
Post by: PM on May 12, 2011, 02:26:35 PM
Fantabbelooslik Trappies!  Uitstekend.  Baie dankie vir die saam skryf.  Jy het baie goed gevaar. 
Title: Re: Die Lento digformule
Post by: Meraai vannie Baai on June 20, 2011, 01:15:52 AM
Gekluisde herinnering; nou slu geskaai
Ongewensde loutering wat wil verteer
Gebaande inbeelding; nou verfomfaai
Onverklaarde verstarring as jy fouteer

Loopgrawe, geskep deur die ongeduld
Begrawe deur simptome-verdoemings:
Galeislawe - vanweë Alzheimer's skuld
Paragrawe met hul vele bemoedigings.

©Meraai vannie baai

*geskryf na 'n oproep en 'probeer' gesels met 'n pasiënt in een van Mosselbaai se versorgingseenhede vir Alzheimer's slagoffers. Hy het onsamehangend vir ons vertel hoe hy hierdie ongevraagde 'skuld-las' ervaar. En ek wonder of al die briefies van moed-in-praat deur die familie, ooit sin maak vir hom as dit voorgelees word?

Title: Re: Die Lento digformule
Post by: PM on June 20, 2011, 01:23:18 PM
Dit is so 'n hartseer gedig.  Roer tot hier diep binne my!   :crybaby2: